MOTORNUUS - Die SWD-ovaalbaan Kampioenskappe is Saterdag op die Arnold de Jager-renbaan op Oudtshoorn voortgesit, met Bobby Hack en sy motorfietsjaers wat voor die tyd die skare vermaak het met skitterende wedrenne.
Ongeveer 35 motors het in ses verskillende klasse ingeskryf.
In al die klasse was die gort gaar en is vir groot opwinding gesorg.
In die ontwikkelingsklas was daar net een man se naam op die lippe - dié van Ivan Pitol. Pitol het die klas oorheers met sy VW Golf wat met 'n nuwe baadjie gespog het, en die klas gemaklik gewen.
Ivan Pitol het die ontwikkelingsklas in sy VW Golf, met sy nuwe baadjie aan, gewen.
In die 1660-klas was daar 'n baie interessante inskrywing. Burger van der Westhuizen het 'n 1660 renmotor vir iemand getoets. Maar pleks van die motor net so te ry, het hy sy eie 2.1-klas Corsa se bakwerk op die toetsmotor gesit om die motor se bakwerk te spaar indien iets gebeur. Van der Westhuizen het egter met meganiese probleme onttrek, wat die deur vir André Fouche oopgemaak het om die klas te wen. Izaan Keller was ook heeldag 'n groot faktor in die klas.
William Steyn het op sy verjaarsdag met die kroon weggestap in sy vinnige BMW in die Heavy Metal-klas.
Die hitsmotor- en 2.1-klas is saam afgehandel, met Shaun Potgieter wat met sy blitsige VW Scirocco die hitsmotor-klas ingepalm het, en Oudtshoorn se blits, Henties de Villiers wat die 2.1-klas in sy vinnige Opel Corsa ingepalm het.
In die Heavy Metal-klas was daar ook groot opwinding. Die drie grootes in die klas in die SWD het mekaar goed die stryd aangesê. André Keller, André le Roux en William Steyn het mekaar geroer in hulle BMW's. Keller moes ongelukkig die stryd gewonne gee nadat sy BMW meganiese probleme gegee het. Die klas is skitterend gewen deur die verjaarsdagman, William Steyn.
Shaun Potgieter het weereens gesorg dat die hitsmotor-klas syne is met sy vinnige VW Scirocco.
Die gemodifiseerde V8-klas was dié klas van die dag. Die geveg tussen Bennie de Bruyn, Bennie Greyling en Albert Olivier sal nog lank onthou word. Die twee Bennies het die toeskouers op hulle voete gehad met hulle uitdunne en finale wedren. In die finale wedren was die twee heel voor met slegs 'n polonieskil tussen die twee V8-monsters. De Bruyn het egter aan die einde die oorhand gekry. Albert Olivier was derde met 'n vinnige Chev Flexi.
Die wedren van die dag was ongetwyfeld die strawwe kompetisie tussen Bennie Greyling (G5) en Bennie de Bruyn (G71) in die gemodifiseerde V8-klas, met De Bruyn wat die klas skitterend gewen het. Foto's: Francois Germishuys
Wedrenprogram
- 2 November - George
- 23 November - Oudtshoorn
- 9 November - SA Kampioenskappe vir Heavy Metal-klas - Worcester
- 20 en 21 Desember - George
Vir George-motorklub navrae, kontak 082 920 6447.
''Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'