Gallery
MOTORNUUS - Neels Nel se goudgeel Anglia is 'n bekende gesig in dié dorp.
Toe hy 16 jaar gelede van Fochville in Noordwes na Riversdal verhuis het, het die 1963 Anglia saamgekom.
Neels, 'n ketelmaker van beroep, het in 1993 twee Anglia-bakwerke by 'n kollega by Western Deeps-myn gekoop. "Hy het twee gehad wat hy wou opbou, maar hy het nooit daarby uitgekom nie," vertel Neels.
Neels Nel in sy 1963 Anglia. Foto’s: Tisha Steyn.
Die een bakwerk was kompleet met 'n onderstel. Hy het 'n 1600 Escort-enjin en 'n ratkas by 'n skrootwerf gekry, en toe begin die groot uitmekaar haal. "Alles moet uitmekaar gehaal en weer opgebou word, dis dié dat dit vyf jaar geneem het om die voertuig te voltooi."
Die bakwerk het roesplekke gehad wat hy moes uitsny en met nuwe plate moes vervang. Die vloer moes ook uitgesny word om vir die nuwe ratkas plek te maak. Eers toe kon die voorbereidingswerk begin om die voertuig oor te verf. Aanvanklik het hy die motor rooi geverf, maar in Riversdal het die Anglia sy geel baadjie gekry.
Die enjin en ratkas is heeltemal oorgedoen. "Ek het aande en naweke in die motorhuis daaraan gewerk," vertel hy. "Dit was 'n gesukkel om die regte parkeer- en remligte te kry, maar die hoofligte was vrylik beskikbaar." Hy het die ligte gemonteer en die bedrading self gedoen. Toe kom die binnekant aan die beurt. "Die agtersitplek was die oorspronklike, maar 'n Indiër het vir my al die sitplekke oorgetrek en die dakvoering gemaak." Neels het self die dakvoering aangebring. "Dit was moeilik, want alles moes presies pas." Hy het ook die deure se binnepanele gestoffeer - en 'n baie netjiese werkie daarvan gemaak!
Die agterkant van die Anglia spog nog met die oorspronklike aansig.
Duidelik weet Neels ook wat enjins betref wat hy doen: Met die eerste poging is die Anglia deur die toets.
Wat is die waarde van die voertuig? "Onvervangbaar, want ek gaan nooit weer so iets aanpak nie."
Wie erf die Anglia? Hy is reg met die antwoord: "My suster Marieta se seun Chris. Al my garagegoed gaan na hom toe. Toe ek aan die karretjie gewerk het, was hy as tjokkertjie altyd by. Hy is ook, soos ek, meganies aangelê."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'