GEORGE NUUS - Tyd loop nou vinnig uit voordat die Suid-Kaap-oumotorklub se spoggerigste geleentheid van die jaar in George plaasvind.
En motors van elke uithoek van die land het reeds hul onderskeie reise begin om betyds aan te land vir dié naweek se vertoning van klassieke, antieke en selfs ultra-moderne enjins.
Media landwyd is al vir maande aan die gons met stories oor die merkwaardige verskeidenheid karre, trekkers en motorfietse wat by Eden Tegniese Hoërskool (voorheen PW Botha-kollege) vertoon sal word.
Net so noemenswaardig is die feit dat 2022 George-oumotorskou (GOMS) se 25ste herdenkingsjaar is. SCRIBS BENZeum is die geleentheid se voorbok vennoot vir die tweede agtereenvolgende keer.
Die Silwerjubileum-byeenkoms is des te meer spesiaal aangesien verlede jaar se inperkingsregulasies enige feestelikhede verhoed het.
GOMS-voorsitter Alewijn Dippenaar en sy 35-sterk span het dit vermag om vanjaar se skougronde met 10 000 vierkante meter te vergroot; nog daarby sorg verskillende tydgleuwe dat soveel as moontlik besoekers die skouspel sal kan geniet, terwyl alle Covid-protokolle nagekom word.
“Ongeveer tweeduisend enjins sal vanjaar op ons skouterrein van 65 000 vierkante meter pryk. Die drie belangrikste komponente is eerstens natuurlik ou motors, tweedens is daar die trekkers, motorfietse en militêre voertuie, en laastens die ‘hot rods’ en moderne modelle wat deur 15 verskillende handelaars vertoon gaan word,” sê Dippenaar.
Die ou motor (voor 1975) kategorie is so sterk ondersteun deur klubs en privaat eienaars van oor Suid-Afrika dat 'n beduidende persentasie van die 930 inskrywings voor of teen 1939 gebou is. Waldo en René Scribante van SCRIBS BENZeum-faam se 1913 Benz is een van vele juwele in hierdie vertoning se kroon.
Aanhangers van hierdie liefderyk gerestoureerde masjiene kan uitkyk vir handelsmerke wat amper elke letter van die alfabet verteenwoordig, van Anglias tot 'n Ford Zodiac Sport wat in '64 in Engeland gebou is.
1938 W142 320
Die Borgward-klub het in 2021 sy 60ste bestaansjaar bereik, maar aangesien geen makieties toe toegelaat is nie, het hul verkies om die geleentheid te vier deur 40 Borgwards by George-oumotorskou 2022 uit te stal.
"'n Ou kar is nie net 'n ou kar nie," verduidelik Dippenaar. “Die herstel tot eertydse glorie van enige klassieke motor is inderdaad 'n kuns en dit verg navorsing om te verseker dat oorspronklike onderdele verkry word en alle spesifikasies presies is soos dit was toe die motor oorspronklik vervaardig is.
2019 George Oumotorskou
“Versamelaars regoor die wêreld werk saam om bewaring van hierdie motors te bevorder, en ‘n kans om die resultaat van jare se arbeid te vertoon doen hom nie elke dag voor nie. Elke deelnemer - of dit nou 'n antieke skip, eienaardige trekker, ‘n skaalmodel of die nuutste Gelandewagen is - sal geolie en gepoeier wees en so indrukwekkend lyk soos die dag toe dit by die fabriek uitgery het,” sê hy.
Dippenaar en die oumotorklub nooi jou om te deel in die genot wat George-oumotorskou op 12 en 13 Februarie inhou.
Bespreek vooraf kaartjies deur Computicket, om so teleurstelling te voorkom indien dit uitverkoop is by die hek. Tydgleuwe vir Saterdag (8-11vm, 11vm-2nm, 2-5nm) kos slegs R50 per gleuf en Sondag se skoutyd is 8vm tot 1nm.
Bring die hele gesin om uitstallings en optogte deur klassieke en moderne motors te bewonder, deel te neem aan 'n veiling, en die verversingstent, kos- en snuffelstalletjies te besoek. Kliek op bit.ly/gocs2022 om die skou aanlyn by te woon.
'n Oomblik in tyd
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'