Die enjins het veral die aandag getrek en dit sluit ‘n heetemal nuwe 2.0 l GDi petrolenjin in met hoogdruk direkte inspuiting wat sorg vir goeie werkverrigting en doeltreffende brandstofverbruik.
Die 2.0 l petrolenjin skop ‘n wakker 125 kW en 202 Nm uit. Die CO2-uitlate word aangedui as 149g/km. Brandstofverbruik kan so laag as 6.4 l /100 km wees op die gekombineerde siklus op die weergawe met die outomatiese PowerShift transmissie.
Die 2.0 l Duratorq TDCi model produseer 120 kW en 202 Nm. Die emissie-syfer is 139g/km en brandstofverbruik 5.3 l/100 km in die gekombineerde siklus.
Die nuwe 1.6 l Duratec Ti-VCT lewer 92kW en 159Nm, met koolstof-emissies van 136g/km en ‘n gemiddelde brandstofverbruik van 5.9 l/100 km in die gekombineerde siklus, afhangend van die bakwerk-keuse.
Transmissie
Die enjin was van die wegtrek by die George-lughawe ‘n plesier, maar dit is die jongste ses-spoed outomatiese ratkas van die 2.0 l-model waarmee ons die tweede dag gery het, wat werklik imposant was.
Die verwisseling is so glad dat dit byna net die omwentelinge is wat verklap wanneer ‘n hoër rat gebruik word.
Veiligheid
Passiewe veiligheid sluit nuwe ontwikkelinge in die lugsakke in. Die lugsakke is voor vir die bestuurder en passasier, aan die kante en volledige sy-lugsakke op die Trend en Sport-modelle.
Die bakwerk is spesiaal versterk hoewel dit besonder lig is.
Die tegnologie van die lugsakke beloof beter beskerming vir die borsgedeelte deur die gebruik van herontwerpte halters. Dié hou die laer deel van die lugsak terug sodat die impak van die lugsak op die bestuurder se bors en ribbes verminder word. Dit is veral belangrik vir ouer passasiers wat makliker beseer kan word, sê Ford.
Hierdie tegnologie word vir die eerste keer in die Focus gebruik, maar sal waarskynlik in die toekoms in ander Ford-modelle ook ingespan word.
Die voorste passasier-lugsak is ook her-ontwerp om besering te verminder deur van die gas aan die sykant uit te laat tydens impak.
Die nuwe bakwerk gebruik meer versterkte staal as enige vorige Ford - nou 55% van die bakwerk.
Ford se ingenieurs het die stabiliteit en beweeglikheid van die Focus ook verbeter met gevorderde tegnologie - sogenaamde Torque Vectoring Control.
Dit balanseer voortdurend die wringkrag tussen die voorwiele en sorg vir beter beheer, beter padhouvermoë en hantering.
Bestuur vir plesier
Die hantering was ‘n plesier, veral op die interessante roetes hier in ons omgewing.
Die Ambiente-modelle is die basiese intreemodelle, gevolg deur die Trend en die Sport.
Mens sou die Ambiente egter nie as ‘n intreemodel beskryf nie. Dit het rembystand (ABS met EBD, EBA en ESP) asook dubbele lugsakke voor en aan die kante.
Die model het ook ISOFIX-hegpunte vir kinderstoeltjies, lugversorging, ‘n radio/CD-speler met ses luidsprekers, USB-verbinding, elektriese vensters voor en sommer nog baie spesiale ekstra’s as standaard.
Die Trend-model het 16" allooi-wiele, volledige sy-lugsakke, beheerpunte op die stuurwiel waaronder spoedbeheer en klankbeheer.
Daar is ook Bluetooth-verbinding met stembeheer, elektriese vensters vir die bestuurder en passasiers en heelwat meer.
Bykomend
Die bykomende Trend Option Pack is op die 2.0 l Trend-modelle beskikbaar.
Dit sluit outomatiese reënveërs, ligte, volgligte, ‘n outomatiese truspieël, ‘n leerstuurwiel, 17" allooi-wiele en ‘n oulike agterste drukvlerk op die vyfdeur-weergawe in.
Die topmodel is die Sport met ‘n sport-onderstel, drukvlerk, 17" allooi-wiele, sesvoudig-verstelbare sitplekke met leerinsetsels en verhitte sitplekke. Slteutelvrye toegang en ‘n outomatiese kragaansluiting is ingesluit - mits ‘n mens natuurlik die sleutel iewers in ‘n sak of handsak het!
Die motor het ook twee lugversorgingsones, ‘n 4.2" TFT skerm met SONY 9 luidsprekerstelsel, outo-matiese truspieël, outomatiese ligverstelling en volg-ligte, reënveërs en vensterbeheer as standaard ingesluit.
Besonderhede
Focus-kopers sal ‘n omvattende waarborg van vier jaar of 120 000 km kry en ‘n vyf jaar of 90 000 km diensplan.
Bykomende gemoedsrus is moontlik danksy drie jaar, onbeperkte kilometer padbystand.
Diensintervalle is elke 20 000 km vir die petrol- en dieselmodelle.
Die vierdeur-modelreeks bestaan uit:
1.6 Ambiente sedan 5-spoed handrat - R208 400;
1.6 Trend sedan 5-spoed handrat - R226 400;
2.0 GDi Trend sedan, 6-spoed outomatiese Po-werShift - R264 300;
2.0 TDCi Trend sedan 6-spoed outomatiese Power-Shift - R281 100;
Luikrug: 1.6 Ambiente - Ti-VCT 5-spoed handrat - R208 400;
1.6 Trend 5-spoed handrat - R226 400;
2.0 GDi Trend - R241 800;
2.0 GDi Sport 5-spoed handrat - R266 200.
ARTICLE: ANICA KRÜGER, SOUTHERN CAPE MOTORING GUIDE EDITOR