Die woelinge in die hogere gestoeltes van Ovaalbaankringe die afgelope tyd het dinge op die grond bitter moeilik gemaak vir die renjaers, maar die onderskeie besture van George- en Oudtshoorn motorklubs het koelkop gebly en ‘n paar maande se harde werk het gesorg dat al die jaers weer op een baan teen mekaar kan meeding.
In die gemodifiseerde 2.1-klas word Neels van Rooyen in sy groen Volkswagen Kewer bitter moeilik in George geklop. Braam Koen in sy ewe groen Golfie het egter lankal nie meer grootoog-respek vir "oom" Neels nie!
Piet Scheepers en Hansie Moore is ou bekendes in die Hotrod-klas en sal moeilik geklop word. Dan is daar natuurlik die ingeligdes wat weet dat ‘n kampioen nie na een wedren gekroon word nie.
Burger van der Merwe steek sy hand hoog op in die gemodifiseerde V8’s, maar Ronnie Gordon-Graham en Bennie Greyling het ook nie hulle ondervinding in ‘n pandjieswinkel gekoop nie.
Greyling is in George bykans onaantasbaar en dit kan ook nie baie anders nie, want hy het ‘n leeue-aandeel in die bou en ontwikkeling van hierdie baan gehad.
Die ander klasse wat deelneem is die Midgets, Sestien-sestigs, ontwikkelingklas en vierwielmotorfietse.
Dit alles beloof motorwedrenpret uit die boonste rakke. Die wedrenne begin om 17:00 en toegangsgeldis R50 vir volwassenes en R20 vir kinders.
.jpg)
Tiaan Louw is een van die gunstelinge in die Hotrod-klas.