MOTORNUUS - Gé Visagie van Albertinia se liefde vir vragmotors het reeds as tjokkertjie ontwikkel.
Hy het altyd vir die trokbestuurders wat by die dorp verbyry gewaai en dit was vir hom tog te lekker as hulle terugwaai en hulle toeters druk - vir hom 'n bekoorlike trompetgeskal.
As jong seun het Gé sy pa met die boerdery gehelp en daarna het hy by slagpale op Fraserburg gewerk, maar sy kop het heeltyd trokke toe gestaan.
Uiteindelik kon hy 14 jaar gelede sy droom verwesenlik en self agter 'n vragmotor se stuurwiel inskuif.
Maar dis nie altyd maanskyn en rose nie.
Ongeduldige motoriste, betogers en rampokkers maak dit gevaarlik vir vragmotorbestuurders om op die pad te wees.
Gé sê die meeste motoriste het geen idee hoe lank dit vir 'n vragmotor neem om tot stilstand te kom nie.
Padtekens en sperstrepe word eenvoudig geïgnoreer, vragmotors word op draaie of opdraandes verbygeskiet en dit gaan dikwels gepaard met 'n getoet en vingertekens. Dieselfde gebeur by stopstrate of verkeersligte, of voertuie kom uit 'n systraat en sny voor 'n vragmotor in - dikwels met noodlottige gevolge.
Op die oomblik vervoer Gé graan in die Suid-Kaap wat soms tot 36 ton weeg. Sy hoofroetes dek die Wes-, Oos en Noord-Kaap.
"'n Trok met 'n vol vrag kan tot 57 ton en meer weeg, afhangende wat vervoer word. Al ry die vragmotor slegs 60 km/h kan dit nie vinnig stop nie. Die drywer moet bedag wees op die verkeer voor, agter en rondom hom, en kan nie bekostig om konsentrasie te verloor nie."
Net noodvoertuie mag binne die geellyn ry en sommige maatskappye verbied hul drywers om op die skouer te ry, maar tog doen hulle dit om padwoede te vermy.
In groot dorpe en stede is dit nog erger, omdat min motoriste bedagsaam genoeg is om 'n vragmotor kans te gee om van baan te verwissel. "Al is jou flikkerlig reeds 'n wyle aan, probeer motoriste steeds verbyskiet." Gé sê dit neem minstens twee bane vir 'n groot vragmotor om te draai.
Van padvarke na padrowers
Die tyd toe 'n vragmotorbestuurder ongehinderd of veilig iewers langs die pad kon slaap, is ook lankal verby. Selfs wanneer 'n vragmotor onklaar raak of in 'n ongeluk betrokke is, word die vrag eenvoudig net geplunder, sonder enige gedagte of die drywer dalk beseer kan wees of om hulp te verleen.
Daar is daagliks voorvalle waar vragmotors met bakstene bestook word of nog erger, gekaap en die drywer vermoor word.
Trokdrywers word ook gedruk om soveel moontlik vragte te ry en kry dan slegs twee tot drie ure se slaap oor 'n periode van 72 uur.
"Jy het min tyd saam met jou gesin, veral langafstanddrywers soos ek. Vroeër jare was daar wetgewing wat vragmotors verbied het om tussen 21:00 tot 05:00 op die pad te wees, maar deesdae is dit 24/7. 'n Drywer wat so min slaap se konsentrasie verswak en daarom is daar so baie gevalle waar hulle aan die slaap raak en 'n ongeluk veroorsaak."
Al kry trokdrywers oor die algemeen nie groot salarisse nie, geniet hy sy werk en wil hy dit aanhou doen tot hy nie meer kan nie. "Om op die pad te lewe is duur. Mens sukkel om 'n ordentlike bord kos goedkoop te kry en jy leef maar van kitskos soos Russians en tjips met gaskoeldrank, omdat sap te duur is."
Maar as die langpad eers in jou bloed is, dan vat jy die suur met die soet. En dié soet-suur mengsel bekoor vir Gé Visagie soos geen ander nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'