MOTORNUUS - Meeste motorbestuurders kom elke dag goed teë wat ons tot die uiterste agter die stuur beproef. Daardie klein jakkalsies wat die spreekwoordelike wingerd verwoes.
Wel, ek gaan so 'n paar dinge noem wat maak dat ek twee keer dink voordat ek gou kafee toe ry.
Vierrigtingstoppe
Jip, ons almal wou al ons hare uit ons kop trek by 'n vierrigtingstop. Asof dit nie genoeg is dat sommige mense nie weet hoe dit werk nie, kry jy nog die kansvatters. Meeste van ons weet dat die reël van 'n vierrigtingstop is dat wie eerste stop moet eerste ry.
Wel, nou kry jy hierdie bestuurders wat vyf meter van die lyn af stop terwyl ek dan 'n mikrosekonde na hom teen die wit streep stop. Wie het nou eintlik eerste gestop - EKKE!! Om meters van die stop stil te hou is eenvoudig om te kroek. Ek het eerste by die vierrigting gestop wat beteken ek moet eerste ry, maar die ou wat 'n blok van die wit streep weg is, se harde stem dra gewoonlik ver sodat hy my goed kan uitskel as ek ry.
Sirkels
Ai mense, hoe lank gaan dit nog neem om te leer sirkels ry? Daar is 'n verskil in die manier hoe jy 'n groot sirkel ry en 'n klein sirkel. 'n Klein sirkel moet gery word amper soos 'n vierrigtingstop, net 'n doodstop is nie 'n moet nie.
'n Groot sirkel, soos in Yorkstraat in George, ry jy anders en moet jy toegee vir die motors wat van regs kom, maak nie saak hoeveel motors daar is nie. Jy moet jou beurt afwag en ry wanneer dit veilig is.
Onthou om altyd in 'n sirkel met jou flikkerlig te wys waarnatoe jy op pad is. Dit bring my by die volgende punt.
Flikkerligte
Die gebruik van die eenvoudige flikkerlig sal soveel frustrasie voorkom. Ek weet nie of sekere mense meer verhewe as ander voel en daarom nie hul flikkerligte gebruik nie. Ai, gebruik tog jou flikker. En onthou ook om seker te maak die ding is af!
Ploeter
Sien, daar is een ding wat erger is as iemand wat voor jou ploeter, en dit is iemand wat voor jou indruk en ploeter. Dit is interessant hoe vinnig 'n stadige kar voor jou kan indruk. Mense, ry asseblief 60 km/h in 'n 60 sone. As jy nie jou motor in stadsgebied kan beheer teen 60 km/h nie moet jy nie 'n motor besit nie.
Kinders
Ek raak baie kwaad as ek kinders op 'n motor se sitplek sien wat nie vasgemaak is nie, en nog erger, wat staan. 'n Kind onder 12 mag nie eens voor sit nie al is hy of sy vasgegordel. 'n Lugsak kan dodelik wees.
Mense, kinder- en babastoeltjies en veiligheidsgordels is daar vir 'n rede. Gebruik dit!
WhatsApp
Kyk, ons almal weet hoe gevaarlik dit is om op jou selfoon te praat wanneer jy bestuur, maar om te WhatsApp agter die stuur?! Dit maak my stom van woede.
Ek gaan seker nou op 'n paar rooi geverfde tone trap, maar in die meerderheid van gevalle sien ek dit is vroue wat hulle hieraan skuldig maak. Of miskien kyk ek dalk net meer na vroue...
Ongeag jou geslag - tik asseblief jou boodskappie wanneer jy klaar gestop het. Ek weet jy is baie oulik en spesiaal, maar jou liefie of maatjie kan 10 minute langer sonder jou persoonlike boodskappie oorleef.
En hierdie is maar net 'n paar van die griewe wat ek op die pad het.
So, as jy op 'n dag die koerant koop en die opskrif lees: "Motorjoernalis gaan bos" - dan kan jy maar weet... dit is ek.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'