Gallery
MOTORING NUUS EN VIDEO - Nostalgie het Saterdag 29 Junie hoogty gevier by die Brugmark toe die Just Wheels-motorgroep weer saamgetrek het om met hul klassieke motors te spog.
Die eienaars van die pragtig gerestoureerde voertuie is duidelik trots op hul handewerk en hulle gesels graag oor dié stokperdjie. Een blinkswart Borgward het tussen die kleiner voertuie uitgestaan.
Dit is die eiendom van Graham Davies van Jongensfontein. Hy verklaar onomwonde dat hy 'n voorliefde vir Borgwards het. Te danke aan hom het nie minder nie as nege van hulle 'n nuwe lewe gekry. Hy woon elke Just Wheels-byeenkoms met 'n ander model by.
Die Duitse entrepreneur, Carl FW Borgward het in 1921 in Bremen met die ontwerp en bou van motorvoertuie begin. Toe sy fabriek in 1944 deur bomme van die Geallieerde magte vernietig is, was hy reeds 'n sukses in die motorwêreld. Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog het hy sy onderneming van die grond af herbou.
Teen 1957 was die Borgward-groep, naas Volkswagen, die tweede grootste motorvervaardiger in Duitsland. Een van hulle kommersiële hoogtepunte was die Isabella-reeks wat tussen 1954 en 1961 vervaardig is.
Die motors was baie gewild in Suid-Afrika en in 'n stadium was bykans 22 persent van al Borgward se uitvoere vir ons mark bestem.
Die motor, wat Saterdag haar kans om te pronk gekry het, is 'n 1960 Isabella TS De Luxe wat gerestoureer is om tot op die laaste skroefie outentiek Borgward te wees, aldus Davies.
Kyk 'n video hieronder.
Die model het 'n 1,5 liter viersilinderenjin met 'n vierspoedratkas. Alle Isabellas het onafhanklike vering op al vier wiele.
Die motor het oorspronklik aan twee Duitsers wat deur Afrika getoer het, behoort. Hulle het egter nie verder as Louis Trichardt gevorder voor die dryfas gebreek het nie en die Isabella het in 'n skrootwerf beland. Davies het dit in 1995 gekoop en hy is die vierde eienaar van die voertuig.
Dit was uit die staanspoor duidelik dat baie herstelwerk nodig sou wees, want die motor was teen daardie tyd heeltemal sonder enjin. Boonop was die vloere deurgeroes en al die sitplekbekleedsel vernietig, omdat die sondak oopgestaan het vir wind en weer.
Na vyf jaar se liefdevolle harde werk en uitgawes waarvan Davies liefs nie die optelsom wil maak nie, pryk die Isabella TS De Luxe weer in volle glorie.
Op die tweejaar-likse Borgward saamtrek wat in Maart by Gariepdam plaasgevind het, het die motor 'n eerste plek behaal en Platinumstatus gekry.
Enigiemand wat belangstel om by die Just Wheels motorgroep aan te sluit, kan Johan Beetge kontak by 083 725 3790.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'