Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Wetgewing bepaal dat munisipaliteite strategieë en meganismes moet ontwikkel om voortdurend met inwoners, die sakesektor en gemeenskapsgroepe te skakel.
Een van dié meganismes is die vestiging en bedryf van verkose, nie-politieke wykskomitees.
Die komitees se funksie is om verkose wyksraadslede in die uitvoering van hul pligte en tot voordeel van die betrokke wyk by te staan deur te verseker dat openbare deelname aan besluitneming op munisipale vlak verbeter.
Op Saterdag, 26 Maart het die verkose wykskomiteelede byeengekom vir 'n induksieprogram wat die aanvang van hul werksaamhede inlui.
Benewens die administratiewe prosesse wat afgehandel moes word, het deelnemers ook in wyksverband hul areas se sterk- en swakpunte, geleenthede en bedreigings in oënskou geneem en prioriteite geïdentifiseer vir ontwikkeling.
In die komende week sal wykskomitees hul eerste vergaderings hou wat die komende gemeenskaps-vergaderings oor die geïntegreerde ontwikkelingsplan voorafgaan.
FOTOGALERY: Induksieprogram vir wykskomiteelede
Wykskomiteelede is bedank vir hul bereidwilligheid om gemeenskapswerk te verrig en 'n gedragskode onderteken wat hul werksaamhede sal rig. Die geleentheid is ook gebruik om vrae te beantwoord en inligting oor te dra.
Die munisipale raad se speaker, raadsdame Venolea Fortuin, onder wie se leiding Mosselbaai se 15 wykskomitees funksioneer, het die wykskomiteelede gemotiveer vir hul taak wat voorlê.
Fortuin het hulle verseker van die goeie samewerking van haar kantoor en die munisipale amptenary.
Wykskomiteelede bestudeer die stukke wat aan hulle uitgedeel is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'