MOSSELBAAI NUUS - "Mosselbaai se wykskomiteestelsel funksioneer beter as meeste van die ander dorpe in die land," het die speaker van Mosselbaai se munisipale raad, raadsheer Petru Terblanche Saterdagoggend by 'n kapasiteitsboubyeenkoms vir wykskomiteelede gesê.
Hy het op die belangrikheid van wykskomitees gewys en gesê deelnemende bestuur en demokrasie funksioneer optimaal wanneer wykskomitees behoorlik funksioneer.
Sowat 90% van die onderskeie wyke se wykskomiteelede het die gure weer trotseer om die byeenkoms by te woon waar kundige sprekers hulle toegespreek het oor onder meer die werwingsproses vir voornemende studente vir die Suid-Kaap Kollege en die voorgenome uitbreiding van dienste wat vir die Thusongsentrum in Adriaansweg, Aslapark in die vooruitsig gestel word.
Met die volgende ontwikkelingsfase van die sentrum, word selfs beter dienslewering in die vooruitsig gestel aangesien fasiliteite geskep word vir selfs meer departemente om die breër gemeenskap te dien. Hierbenewens word ook 'n fiksheidsentrum en amfiteater beplan.
Raadslede Annatjie Janse van Rensburg, Anton Dellemijn en Marie de Klerk saam met wykskomitee-lede. By hulle is George van der Westhuizen, Mosselbaai-munisipaliteit se bestuurder van beplanning en strategiese dienste (naaslinks).
Mosselbaai se Thusongsentrum is onlangs aangewys as die beste sentrum in die 2016/2017-boekjaar.
'n Interessante voorlegging oor 'n voorgenome nuwe behuisingsontwikkeling langs Louis Fourieweg langs Mikeva is ook deur verteenwoordigers van Enviro Assessment Practitioners, Lize-Mari van Zyl en Herman Potgieter gedoen.
Wykskomiteelede van Wyk 14, Isak Wildskut, Eric Scott, Andries Pikaan en Basil Meyer.
Na verwagting sal verskillende tipes behuising, onder meer vir verhuring, hier ontwikkel word.
Die prosesse wat gevolg moet word alvorens spoedhobbels opgerig kan word in woonbuurte is ook toegelig juis omdat soveel wykskomitees tydens die geïntegreerde ontwikkelingsplan se openbare deelnameproses gevra het dat dit in hul areas opgerig moet word.
Wykskomiteelede is ook gewys op die gedragskode wat op hulle van toepassing is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'