MOSSELBAAI NUUS - Vroue van die Jonkersberg- en Toekoms-gemeenskappe is deur komiteelede van Wyk 5, Groot-Brakrivier bederf, met 'n spesiale geleentheid om die einde van vrouemaand te vier.
Maureen Gertse, Jonkersberg-gemeenskapsleier, was verantwoordelik vir die meeste van die reëlings.
Sy het 'n ongelooflike hart vir haar gemeenskap en stap dikwels kilometers om by die vroue op die plase uit te kom.
Gertse het vir sersant Lauriane Botha, kommunikasiebeampte van die Groot-Brakriver-polisiestasie, genooi om met die vroue te gesels.
Volgens Annemarie Dellemijn, wykskomitee-voorsitter, was Botha se praatjie baie inspirerend. Botha, of Pippie, soos sy in die gemeenskap bekend staan, sê sy het oor die aanbreek van 'n nuwe seisoen gepraat.
"Ek het dit met 'n vullistrok vergelyk waar elke vrou in haar huis die vullis bymekaar maak, in 'n swartsak gooi en dan buite sit, sodat die vullistrok dit kan wegry. So moet ons vroue ook alle swaarkry in 'n vullissak toemaak, weggooi en die nuwe seisoen instap met 'n ligte tred en met geen vullis in die hart nie."
Volgens Dellemijn het Botha die vroue genooi om as hulle weer bymekaar kom, te vertel hoe hulle dié lewensbenadering geïnterpreteer en geïmplementeer het.
Maureen Gertse, Jonkersberg-gemeenskapsleier, asook lid van Wyk 5 se wykskomitee, loer deur die opdienvenster. Voor haar sit Jana Mckommer en Bonita Stuurman.
Kommunikasiebeampte van die Groot-Brakrivier-polisiestasie, sers Lauriane Botha, het die vroue toegespreek.
Vroue van die Jonkersberg-omgewing kom aan vir 'n Vrouedag-kuier.
Annemarie Dellemijn, wykskomiteelid van Wyk 5 saam met Nicola Jafta.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'