MOSSELBAAI NUUS - Drie wonings in die Wolwedans-omgewing is op Dinsdagaand, 18 Januarie om ongeveer 21:00 in puin gelê nadat 'n brand uitgebreek het.
'n Vierde woning is danksy die spoedige optrede van die Mosselbaai brand-, redding- en rampbestuursdienste gered, aldus die kommunikasiebeampte van die polisie op Groot-Brakrivier, sers Laurianne Botha.
Op Woensdag, 19 Januarie het nog drie huise wat langs dié staan wat Dinsdagaand afgebrand het, aan die brand geslaan. Die brande het ongeveer 12:50 begin.
Sewe huise is in geheel en gedeeltelik verwoes. Niemand is egter beseer nie.
Die vermoede bestaan dat 'n klein vuurtjie langs die eerste houtstruktuur deur middel van 'n sterk wind buite beheer geraak het. Die oorsaak van die brande sal egter ondersoek word.
"Die gesinne het alles verloor in die brand," berig Botha. Indien enige lede van die gemeenskap na die gesinne sou wou uitreik, kan hulle Botha skakel (082 522 1682).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'