MOSSELBAAI NUUS - Die NG Kerk se gebou is 'n belangrike baken in Hartenbos, dis die enigste kerk hier met 'n hoë toring. Die kerk is ongeveer 50 jaar gelede gebou en soos dit is, moet daar van tyd tot tyd instandhouding gedoen word.
Die dak is bedek met klein leiklipteëltjies wat met die jare verbrokkel het en moet nou een vir een vervang word.
Na vele kwotasies is 'n bekwame kontrakteur uit die Noorde aangestel, daar is nie baie kontrakteurs wat spesialiseer in sulke herstelwerk nie.
Die werk het op 16 September begin en behoort so twee maande te duur. Die werksaamhede word so beplan dat die kerkgebou nog steeds gebruik kan word.
Die groot uitdaging is egter, waar die fondse vandaan kom. Die gemeente het 'n woekerprojek van stapel gestuur, Hiervolgens is dit elkeen se keuse of hulle wil woeker om die dakfonds te versterk en kostes te dek. Die kostes is na beraming R500 000 afhangende of daar verskuilde skade is wat ekstra uitgawes gaan wees.
Daar heers groot opgewondenheid in die gemeente en dis verstommend met watter inisiatiewe en kreatiewe idees mense na vore kom om te woeker.
"Die spreekword sê nie verniet: Waar daar 'n wil is, is daar 'n weg. Ons vertrou in geloof dat die projek suksesvol afgehandel word," sê Heleen Coetsee, koördineerder vir die woekerprojek .
Vir navrae, kontak Heleen (082 454 5724 of 044 697 0872).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'