MOSSELBAAI NUUS - Stormsterkwind het Vrydagaand omstreeks 23:00 groot skade aangerig in onder meer Mosselbaai se Punt-area. Hierbenewens is berigte van skade van sover as Danabaai en Island View ontvang, hoewel inwoners van Hartenbos Heuwels berig het dat daar by hulle skaars van wind sprake was.
'n Gedeelte van die dak van die ou Frog Rock-woonstelle by die Punt is afgeruk, 'n geut is losgeruk en het in die wind rondgeswaai. 'n Venster is ook gebreek. Volgens Annette Strydom, inwoner van woonstel 14, was die wind angswekkend.
'n Kennisgewingbord by Milkwood Laerskool is omgewaai en 'n boom voor die bekende Shark Shack, wat akkomodasie beid vir rugsakreisigers in Marshstraat het omgewaai. Niemand is sover bekend beseer nie en geen skade aan voertuie aangerig nie. Verskeie ander bome se droë takke het ook afgewaai. Dakteëls van die Beacon Point-woonstelle het ook afgewaai en berigte van skade aan dakke is van die Mosselbaai-gholflandgoed ontvang.
Die windskade was egter nie net tot die Mosselbaai-middedorp beperk nie.
Weerskade het ook daartoe gelei dat kragonderbrekings in die Groot-Brakrivieromgewing ondervind is wat Saterdag vroegmiddag herstel is.
ARTIKEL & FOTO: TERSIA MARAIS, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'