MOSSELBAAI NUUS - Waarskuwings van stormsterk wind en die waarskynlikheid van heelwat reën het feesgangers nie die naweek van die jaarlikse Dias- en Hawefees by die Santos-feesarena weggehou nie. Saterdagaand is optredes deur veral die grootnaamkunstenaars wel in die wiele gery toe die verhoogprogram omstreeks 18:00 vir sowat 'n uur vir veiligheidsredes weens gure weer onderbreek is, maar die aanhangers het die gure weer trotseer tot en met die einde van die geskeduleerde vertoning.
Hoewel die sterk wind soms steurend was, het talle kunstenaars, plaaslike asook nasionaal gerekende sterre op beide aande die groot gehoor met oorgawe vermaak.
Saterdag
Vroegoggend op Saterdag het die feesprogram reeds om 08:00 afgeskop met die Wes-Kaapse lewensreddingstoernooi op Santosstrand en met valskermspringers wat met groot landsvlae 'n asemrowende vertoning gelewer het. Om 09:00 het die vlotteparade vanaf die munisipale kantore via Georgeweg hul pad na die feesarena gevind.
Bartolomeu Dias se aankoms
Bartolomeu Dias se aankoms in Februarie 1488 op Mosselbaai is kleurryk op die verhoog uitgebeeld voordat 'n verhoogprogram van kulturele, volks- en seremoniële danse gevolg het. Soos gewoonlik was die vertonings deur groepe uit Indonesië, Madagaskar, Duitsland en Portugal en die Kanimambo-optrede in die besonder baie aanskoulik en die gehoor was baie ingenome met die rieldansers en Volkspelevertonings.
Verhoogprogram
Verskeie plaaslike kunstenaars en groot name in die musiekbedryf het besoekers vir drie dae na die feesterrein laat stroom. Die talle kosstalletjies en snuisterystalletjies het voorraad aangevul vir 'n heerlike piekniek onder die bome voor die verhoog terwyl vermaak uit die boonste rakke verskaf is.
Die jongklomp het hulle vermaak op die talle pretritte terwyl hul ouers die verhoogprogramme geniet het. Veral Sondag het die verhoogprogramme items spesiaal vir die kleingoed ingesluit van onder meer Tjiff en Tjaff onderbreek nie.
Ekstra beveiliging was deurtentyd voorsien deur polisielede en die buurtwagvrywilligers onder leiding van die Mosselbaai-gemeenskapspolisiëringsforum wat deurentyd 'n teenwoordigheid op en om die feesterrein gehandhaaf het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'