MOSSELBAAI NUUS - Wanneer jy verby Willem Laufs se huis stap, is die eerste ding wat jy sal opmerk die hoë koringgerwe wat in die voortuin groei.
Willem (78) en sy vrou Erna is inwoners by Benevolent Park, 'n tehuis vir Mosselbaai se bejaardes.
Die paartjie het in April 2024 by Benevolent Park ingetrek, en hul blyplek het gou as "die huis met die groentetuin" bekend geword.
Van aartappels tot beet, mielies en klein boontjies en dit is duidelik dat Willem met groen vingers geseënd is.
Die hoë mielieplante wat voor Willem en Erna se huis groei. Foto: Gabriélla Siebritz
Willem het op 'n plaas groot geword. Boerdery is sy passie, sê hy. "Ek groei groente al van en vyf jaar oud is," sê Willem.
Om sulke uitstekende produkte te verbou, verg toewyding en harde werk. Kwaliteite wat nie ontbreek by Willem nie.
"Sodra die aartappels geoes is, plant ons dadelik die beet," sê hy.
So 'n oorvloed groente vul nie net Willem en Erna se etenstafel nie. Hy skenk gereeld van sy produkte aan ander inwoners en aan die park se kombuis.
As jy Willem nie in sy groentetuin kry nie, kry jy hom by Laufs Mans Haarkappers in Cuffstraat, Mosselbaai.
Hy sny hare saam met sy broer, Charles. Die broers het in die salon begin werk vanaf hulle 16 jaar oud was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’