MOSSELBAAI NUUS - Het u enige gevaarlike huishoudelike afval en weet nie hoe om wettig en gratis daarmee weg te doen nie?
Mosselbaai-munisipaliteit bied binnekort twee geleenthede aan vir die wettige verwydering van afval wat tipies nie saam met gewone huishoudelike afval verwyder kan word nie.
Op 5 Desember kan Mosselbaaiers by die parkeerterrein net agter die stadsaal in Marshstraat gevaarlike afval afgee. Personeel sal vanaf 08:00 tot 14:30 beskikbaar wees om die afval te aanvaar.
Op 6 Desember kan inwoners in die Groot-Brakrivier-area hul gevaarlike afval gratis en wettig vanaf 08:30 tot en met 14:30 by die munisipale kantore op dié dorp stort.
Gevaarlike afval
Gevaarlike huishoudelike afval wat tipies nie saam met gewone huishoudelike afval weggegooi mag word nie, sluit in; ou motorolie, oliefilters, remvloeistof, gebruikte vriesteenmiddel, ou verf, verfverdunner, terpentyn, plaag- of onkruiddoders, huishoudelike batterye, ou televisiestelle, elektroniese toestelle, motorbande, fluoorbuise en gloeilampe, asook enige huishoudelike mediese afval soos inspuitingsnaalde en ou medisyne.
Uitgesluit
Die volgende items word nie aanvaar nie:
- Plofstowwe,
- Ammunisie,
- Radioaktiewe materiale,
- Wetlikbeheerde medisyne.
Inwoners word versoek om die afval te verpak in ‘n sterk kartonhouer, verkieslik die oorspronklike verpakking, en om die houer gepas te merk met wat daarin verpak is.
Moet ook nie enige gevaarlike items saam in enige houer verpak nie.
Weens permitvereistes en die hoeveelheid persone wat aan die program deelneem sal van inwoners verwag word om die houer saam met die gevaarlike afval af te gee.
Kontak Sivuyile Mtila (044 606 5143) met navrae.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'