Update
MOSSELBAAI NUUS - Die eienaar van Cliffs Auto Repairs op Mosselbaai, Cliff Cope (46) was besig om met petrol skoon te maak sodat hy die bedrading van ‘n bakkie kon begin koppel toe die werkswinkel op Maandag, 21 Junie om ongeveer 12:00 in Gys Smalbergerstraat aan die brand geslaan het.
Luna Cope (47), was ook in die werkswinkel en sê ‘n gedeelte van die werksoppervlakte was skielik in vlamme gehul.
“Cliff het die brandblusser gebruik en het in die proses rook en die bestandeel van die brandblusser ingeasem. Hy het homself beseer toe hy van die vlamme weggespring het en geval het. Hy het sy nek en sy rug beseer maar het gelukkig nie enige brandwonde opgedoen nie.”
Cope sê hoewel Cliff die brandblusser gebruik het, het hulle besef dat ‘n mens eintlik tenvolle toegerus moet wees om in ‘n noodsituasie met ‘n brandblusser te werk.
“Nadese kan ek mense sterk aanraai om opleiding te ontvang oor hoe om tenvolle toegerus te wees om met ‘n brandblusser te werk. Die poeier van die brandblusser het met die rook in die werkswinkel gemeng en dit het veroorsaak dat ons glad nie kon asem kry nie.
Sy sê Cliff is na die Mosselbaai-provinsiale hospitaal afgevoer waar hy vir trauma behandel is.
Die egpaar se hele werkswinkel het afgebrand en hulle het nie versekering nie. “Ons harte is gebreek en ons is regtig geskok. Ons het nie woorde vir wat gebeur het nie,” sê Luna.
Luna sê sy is baie dankbaar dat niemand van hulle ernstige beserings opgedoen het nie.
Geen kriminele klag is by die Mosselbaai-polisie aanhangig gemaak nie.
* Owerhede het aanvanklik vermoed dat ‘n man brandwonde tydens die voorval opgedoen het maar na deeglike behandeling is dit bevestig dat die persoon slegs traumabehandeling moes ontvang.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'