MOSSELBAAI NUUS - Adjudant-offisier Pieter Koekemoer, woordvoerder van die Mosselbaai-polisie gee die volgende wenke ten opsigte van misdaad in en om Mosselbaai.
Die belangrikste wenk is om voorkomend te leef en te dink.
Vertrou niemand, veral nie vreemdelinge nie. As dit te goed klink om waar te wees, is dit heel moontlik so. Luister na jou gevoelens in 'n ongemaklike en gevaarlike situasie en gee eerder pad.
- Outomatiese tellermasjien (OTM): Moenie jou pin of jou kaart aan enige ander persoon gee nie.
- By internettransaksies soos aanlynverkope of aankope moet jy seker maak jy weet met wie jy deel en wat jy doen. Doen eers deeglike navorsing aangaande persoon en produk alvorens jy iets betaal en of aflewer. Geen bank sal persoonlike informasie soos jou bankbesonderhede, pin of geheime kodes aanvra nie. Kontak eerder jou bank persoonlik.
- Ten opsigte van diefstal uit motorvoertuie moet jy altyd seker maak jy sluit die deure en aktiveer die alarm. Los jou voertuig in toegesluite erf of verkieslik in 'n motorhuis. Moenie enige iets in jou motor los, veral nie van waarde nie.
- By jou huis of besigheid moet jy sorg dat niks waardevol of wat as wapens gebruik kan word los lê in jou erf nie.
Pak weg en sluit toe. Verseker dat deure, vensters en/of veiligheidshekke gesluit is. - Moenie bedelaars of vreemdelinge trakteer, kos, geld of werk gee nie. Skenk eerder aan organisasies of kerke wat voedingsprogramme het vir hulpbehoewende persone. Laai jou kinders, veral die in laerskole persoonlik op en af, of reël saamryklubs met mense wat u ken en vertrou. Dit is nie meer eens veilig in helder daglig om alleen te stap, draf, fietsry of hengel nie.
- Beweeg in groepe, vermy verlate plekke en wees veral versigtig wanneer jy op Louis Fourieweg beweeg wat op vele areas beboste kante het.
Hoewel ons nog gelukkig genoeg is om in groter Mosselbaai te woon, werk en leef, moet ons besef dat hier misdadige elemente tussen ons woon en beweeg wat net wag vir 'n geleentheid om ons te na te kom sonder ' n sweem van 'n skuldig voel.
Bly waaksaam en lewe voorkomend. Leer jou familie en kinders om waaksaam te bly deur self die voorbeeld te stel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'