MOSSELBAAI NUUS - Verskeie ouers op Mosselbaai se kinders moet voordat die skole amptelik open, aanlyn skoolgaan.
Mariesa Candiotes en Charlotte Fourie by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum sê dit is belangrik vir ouers om gedurende hierdie tyd 'n normale oggendroetine te volg.
Hulle gee die volgende wenke aan ouers:
* Eet ‘n gesonde ontbyt, borsel tande, kam hare en trek "skoolklere" aan. Druk die klasrooster vooraf uit. Soos die periodes klaar is, laat jou kind dit op die rooster afmerk. Sodoende weet hulle hoeveel klasse nog oor is.
* Tyd is nog nie ‘n konsep wat jonger kinders werklik goed begryp nie, maar op hierdie manier word die dag in dele opgebreek wat hulle wel kan verstaan. Wees voorbereid: kry alle boeke en skryfbehoeftes die aand voor die tyd reg, sodat daar nie geskarrel word tussen klasse of selfs tydens klasse nie.
* Skep ‘n netjiese ruimte in jou huis waar die aanlyn onderrig altyd kan plaasvind, weg van afleidings soos die televisie en speletjies.
* Verduidelik aan jou kind dat dit net soos ‘n "kontak-onderrig-klas" is en dat hulle vrae moet vra indien hulle nie seker is oor iets nie.
* Laat hulle buite speel, ietsie eet en water drink tydens "pouses".
* As jou kind sukkel om te fokus, bind ‘n kousband om die stoel se pote. Dit sal hulle bene besig hou en konsentrasie verbeter.
* Wees geduldig met jou kind en hulle juffrou – hierdie is ‘n deurlopende leerproses vir beide van hulle.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'