MOSSELBAAI NUUS - Is jy 'n natuurkenner of selfs 'n ervare jagter wat sy/haar bokspesies ken? Dan is daar 'n ongeïdentifiseerde bokkop by die ATKV Hartenbos Museum wat moontlik met jou kennis kan baat vind.
Nie die museum óf die skenkers is seker watter spesie dit is nie.
Die kop is op 9 Desember 2017 deur Talmage Jordaan en sy vrou aan die museum geskenk ter herdenking van hul 50ste huweliksherdenking. Hulle woon al vir ongeveer 20 jaar in Groot Brak.
Hulle het die Mossel Bay Advertiser gekontak met die hoop dat 'n berig oor dié misterieuse bok moontlik 'n kenner na vore sal bring wat dit sal kan indentifiseer.
Dié bokkop is in die museum se wapenkamer te sien. Die Jordaans het die kop by 'n oom van Talmage gekry. Volgens hul kennis kom die bok moontlik uit die tyd van die Tweede Wêreldoorlog, of selfs vroeër.
Die oordbestuurder van ATKV Hartenbos, Mornay Beukes, het bevestig hulle het ook geen aanduiding in hul registers oor die spesie van die bok nie, behalwe dat dit deur die Jordaans geskenk is.
Volgens die nota by die bok is daar selfs al X-strale en DNS van hom geneem.
Beukes het 'n raaiskoot gewaag en meen as jy kyk na die voorkoms, kan dit moontlik na die swartwitpens-familie lyk.
"Maar ons los dit vir die meer ervare jagters daar buite om vir ons te sê."
Die Jordaans sê hulle het die bok aan die museum geskenk sodat die hele nageslag daartoe sal toegang hê en waar dit sal veilig wees.
Die museum is Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 16:00 oop. Dit is gesluit tussen 13:00 en 14:00 asook op vakansiedae. Op Saterdae is dit van 09:00 tot 12:30 oop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’