MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie maan die publiek opnuut om uiters waaksaam te wees wanneer hulle in die Diasstrand-omgewing ontspan gedurende die komende feesseisoen.
Dit volg na 'n voorval waartydens twee buitelandse besoekers op die strand aangeval is deur onbekende mans wat met messe gewapen was.
Die voorval het volgens 'n inskrywing op die Mossel Bay Advertiser se facebookblad, op Woensdag, 27 November plaasgevind.
Volgens die inskrywing het die gaste in Pansy Cove tuisgegaan en is hulle op die strand voor die gebou aangeval. Daar word beweer dat een van die toeriste tydens die voorval beseer is.
Polisie reageer
Die Da Gamaskop-polisie, in wie se bedieningsarea Diasstrand geleë is, het by navraag gesê dat geen so 'n voorval aangemeld is nie.
"Dit gebeur dikwels dat besoekers aan Mosselbaai, wat slagoffers van misdaad word nie sake maak nie, omdat hulle nie na die dorp kan terugkeer om in 'n hofsaak te getuig nie. Daarom meld hulle nie sake aan nie en dit maak polisiëring en volledige ondersoek van hierdie misdade problematies," het die woordvoerder van die stasie, kapt Wollie Fourie verduidelik.
Kaptein Fourie het gesê dat die gemeenskap kennis moet neem dat die gebied vanaf De Bakke tot Diasstrand, 'n problematiese gebied is.
"Opportunistiese misdadigers gebruik die kranse teen Louis Fourieweg om mense dop te hou wat op die strand of op die rotse loop. Dit is dus maklik vir hulle om vinnig toe te slaan en net weer vinnig te verdwyn. Daarom is dit so belangrik om nie alleen te stap of te hengel nie en selfs dan, versigtig te wees in hierdie omgewing."
Hoewel daar gereelde patrollies is, het kapt Fourie verduidelik dat uitdagings in terme van mannekrag dit moeilik maak om voltydse bewaking in die gebied te handhaaf.
Met die oog op die feesseisoen het kapt Fourie gesê dat daar reeds met buurtwagte in die sektor gesels is oor misdaadvoorkomingsinisiatiewe.
Addisionele partrollies sal gedoen word, ook op die strandgebied en vierwiel-motorfietse sal weer ingespan word. Waarskuwingstekens is reeds op die strandgebied aangebring.
"Ons versoek hengelaars, fietsryers, stappers en drawwers om bedag te wees gedurende die seisoen. Die publiek kan die polisie ook help deur besoekers te waarsku oor plekke waar dit nie veilig is om alleen te beweeg nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'