MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-inwoner, Juanita Venter en haar gesin bly in Beacon Point en het groot geskrik toe weerlig op Sondag, 19 Januarie 'n gedeelte van hulle woning raakgeslaan het.
Juanita sê hulle was om ongeveer 16:30 in die slaapkamer langs die buitestoep toe hulle 'n geweldige slag hoor.
"Dit het geklink of iets teen die gebou vasvlieg. Ons het nie geweet wat aangaan nie en het die bakstene hoor tuimel."
Sy sê haar seun was net so bang en toe hulle genoeg moed bymekaarskraap om ondersoek in te stel, het hulle afgekom op die bakstene by die braaigedeelte van die balkon wat deur weerlig raakgeslaan is.
"Dit lyk of weerlig die skoorsteen geslaan het en ons krap nog kop oor wat presies die aantrekking was aangesien dit uit siersteen gebou is." Gelukkig is niemand tydens die voorval beseer nie en die omvang van die skade wat berokken is moet nog bepaal word.
Weerlig op Mosselbaai
Weervoorspeller vir die Suid-Afrikaanse Weerdiens, Wayne Venter sê die hoeveelheid weerlig wat die afgelope naweek op Mosselbaai voorgekom het, is inderdaad abnormaal vir die omgewing.
"Dit kan wel in somermaande gebeur. Ons het die sisteme nie die afgelope paar jaar gekry nie omdat 'n sterk El Niño gedomineer het."
Venter sê daar is twee sisteme wat die weerlig kon veroorsaak het. "Die sisteme word afsny-laagdrukstelsels genoem. Dit bring gewoonlik onstabiliteit in die lug oor die Wes-Kaap en veroorsaak swaar reën en oorstromings in Suid-Afrika asook hewige donderstorms.
"Daar was die afgelope naweek so 'n stelsel en daar is weer 'n bolug-stelsel wat op dieselfde plek sit. Met die oppervlak Suid van die land het ons die sterk konveksie wat plaasvind langs die kuslyn wat dan die donderstorms gee.
"Dit sal dan nog moontlik voortduur maar 'n kouefront is oppad en sal die gebied teen die naweek bereik. Die stelsel sal dan weggestoot word wat meer reën as donderstorms sal veroorsaak."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'