MOSSELBAAI NUUS - Waterbeperkings word vanaf môre, Vrydag 1 November, deur die Mosselbaai-munisipaliteit ingestel.
Die volgende persverklaring is uitgereik:
Kennis geskied hiermee ingevolge Artikel 21 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, No. 32 van 2000 dat die volgende Besluit E127-09/2019 tydens ‘n Raadsvergadering op 26 September 2019 geneem is:
1. Dat die volgende beperkings ingestel word ingevolge Artikel 18 van die Waterdienste Verordening en die Mosselbaai Munisipaliteit Water Aanvraag Bestuursbeleid vanaf 1 November 2019 deur alle gebruikers van drinkbare water aangesien die totale volume beskikbare water gedaal het na tussen 50% en 60%:
1.1 Natlei van tuine mag slegs onderneem word vir een (1) uur per dag tussen 18:00 – 19:00, twee dae per week. Geen besproeiingstelsels mag gebruik word nie. Gelyke nommer huishoudings SLEGS op Maandae en Donderdae. Ongelyke nommer huishoudings SLEGS op Dinsdae en Vrydae. Natlei met ‘n tuinslang mag slegs gedoen word indien dit per hand gedoen word.
1.2 Slegs die natlei van krieketvelde, gholfbane en rolbalbane word toegelaat vir twee ure per dag. Dinsdag en Vrydag oggende voor 09h00.
1.3 Die afspuit van dakke, opritte en ander oppervlakke word nie toegelaat nie en voertuie mag nie gewas word met ‘n tuinslang nie.
1.4 Die vul van swembaddens word verbied.
1.5 Akkommodasie instellings en hotelle moet aansoek by die Munisipale Bestuurder doen vir vergunning in die verband en om hul swembaddens te vul.
1.6 Identifikasie van areas met hoë waterdruk en/of hoë waterverbruik vir die installering van drukverminderings- en/of vloeiverlagingstoestelle.
1.7 Effektiewe bewusmakingsprosesse moet gevolg word.
2. Dat indien die totale volume beskikbare water daal in volume na tussen 50% en 40% die volgende beperkings toegepas word:
2.1 Geen besproeiingstelsels mag gebruik word nie.
2.2 Geen gekoppelde tuinslange of outomatiese besproeiingstoerusting mag gebruik word nie. Besproeiing van tuine slegs deur middel van ‘n emmer gedurende die tye hierbo in 1.1 bepaal.
2.3 Die goedgekeurde tariewe vir watervoorsiening vanaf ‘n dam met minder as 50% sal van toepassing wees.
2.4 Geen skoonspuit van strukture, dakke en opritte en geen vul van swembaddens.
2.5 Strenger polisiëring en toepassing van ‘n klagtelyn en fluitblaser fasiliteit.
2.6 Konsultasie met grootmaat verbruikers in die nywerheids-en sakesektore soos geïdentifiseer deur die rekening stelsel.
2.7 Slegs die besproeiing van gholfsetperke, krieketkolfblaaie en rolbalbane toegelaat. Die besproeiing van ander tipe sportvelde is verbode.
2.8 Effektiewe bewusmakingsprosesse moet gevolg word.
2.9 Identifikasie van areas met hoë waterdruk en/of waterverbruik vir die installering van drukverminderings- en vloeiverlagingstoestelle.
2.10 Vloeibeperkingsmeganismes sal geïnstalleer word by huishoudings wat meer as 20kl water per maand gebruik en die koste hiervan sal vir die verbruiker wees.
2.11. Dat boetes uitgereik sal word vir oortreders van die water beperking maatreëls wanneer die totale volume beskikbare water daal na minder as 50%.
3. Dat ingevolge die Water Aanvraag Bestuursbeleid die Munisipale Bestuurder in konsultasie met die Uitvoerende Burgemeester gemagtig word om die bogemelde beperkings te implementeer of te wysig asook enige ander addisionele maatreëls te implementeer soos vereis afhangend van die omstandighede ter sprake tydens daardie tyd.
4. Dat ‘n Waterbestuur Taakspan bestaande uit die Uitvoerende Bestuur en Burgemeesterskomitee lede byeengeroep word om die Munisipale Bestuurder en Uitvoerende Burgemeester by te staan in die neem van besluite met betrekking tot wateraanvraag en besparing gedurende die droogte tydperk.
5. Dat kennis geneem word dat slegs deernis huishoudings 6kl gratis water per maand sal ontvang wanneer die damvlak daal na minder as 30%.
6. Dat die Direkteur: Infrastruktuur Dienste maatreëls prioritiseer om water lekkasies en geen inkomste water verbruik te verminder.
7. Dat die Direkteur: Infrastruktuur Dienste maatreëls implementeer om grondwater hulpbronne in landelike gebiede effektief te bestuur.
8. Dat enige oortreding van hierdie beperkings ge ag word om ‘n oortreding te wees ingevolge Artikel 102 van die Mosselbaai Munisipaliteit Waterdienste Verordening en dat daar dienooreenkomstig opgetree sal word.”
Hierdie kennisgewing is vir die publiek oop ter insae gedurende kantoor ure by die Munisipale Kantore en Biblioteke in Mosselbaai, Hartenbos, Herbertsdale en Groot Brak rivier, Friemersheim, Kwanonqaba en D’Almeida en op die munisipale webwerf (www.mosselbay.gov.za).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'