'n Leser van die Advertiser, wat toevallig dié ongewone verskynsel raakgesien het, het daaroor geskryf in die briewekolom van verlede Vrydag se Advertiser.
So volg 'n soektog na die romantiese oorsprong daarvan.
Gelukkig het die romantikus sy identiteit vrywillig openbaar toe hy 'n e-pos aan die Advertiser gestuur het om te vertel van hierdie spesiale geleentheid.
Die 27-jarige Francois Goosen, 'n web-programmeerder van Oudtshoorn, het die besondere geleentheid beplan om só sy geliefde, Lorraine Uys (26), 'n rekenmeester van Mosselbaai die ja-woord gevra.
Die paartjie, wat reeds twee jaar lank vas uitgaan, het saam studeer aan die Suid-Kaap Kollege in Oudtshoorn, maar in daardie dae was Lorraine in 'n ander verhouding betrokke.
Haar vriend is egter op 'n jeugdige ouderdom aan kanker oorlede en Francois is intussen Upington toe.
Aangesien hy 'n voorliefde het om kontak te behou met mede-studente, het hy Lorraine weer opgespoor. Sy was besig om te herstel na haar verlies en die geduldige Francois het 'n simpatieke oor aangebied.
Met verloop van tyd het nuwe liefde tussen die twee begin blom en Francois het die stap geneem om nader aan sy trekpleister te trek sodat hulle die verhouding op die proef kon stel.
Tydens een van Francois se vele web-soektogte het hy 'n soortgelyke voorbeeld raakgesien en 'n idee het in sy kop vorm aangeneem oor die 'groot vraag', alhoewel hy reeds in April die verloofring aangeskaf het.
Na 'n gesprek met 'n vriendin wat 'n grafiese kunstenaar is, het hy sy 'Lolla-banier' laat ontwerp en die groot, 1,2m x 5m- vraag laat druk.
Die plan was om dit op die strand uit te lê en dan vanaf Botlierskop per helikopter oor die strand te vlieg met die hoop 'Lolla' lees dit én antwoord reg!
Om alles haarfyn te beplan sonder dat 'Lolla' iets agterkom, was gewis nie ‘n maklike taak nie, maar Lorraine bevestig dat sy salig onbewus was van die gekonkel.
Selfs tydens die rit Botlierskop toe het sy niks vermoed nie, omdat sy gewoond is dat hulle gereeld nuwe plekke besoek wat Francois op die internet raaksien. Tydens die vlug het die deeglike Francois seker gemaak dat hy en Lorraine mekaar duidelik oor die oorfone kon hoor.
Lorraine vertel hoe mooi die see was en hoe vlieënier, Christo, hulle attent gemaak het op die walvisse in die baai, toe sy iets op die strand sien lê.
Met die nadervlug het sy dit in ongeloof gelees en toe sy omkyk na Francois, sit hy met die verloofring gereed in sy hand.
Francois het aan die Advertiser gesê dat hy nie vir een oomblik daaraan getwyfel het dat sý Lolla wel "ja" sal sê nie, maar nou, nadat die ja-woord uit is, besef hy hoeveel verkeerd kon geloop het.
Lorraine sê dat beide sy en Francois uit baie gelukkige gesinne kom en dat hulle glo dat hulle geloof in Jesus die grondslag van hulle huwelik gaan wees, want Hy maak álles moontlik.
Hoe weet sy dit? Want na ál haar eie hartseer en verlies, hét Lolla toe ja gesê en vandag glimlag sy sommer baie breed dáároor.
Die banier met die 'groot vraag'.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS