Tony Markowitz, van die gekontrakteerde raadgewende ingenieurs Royal Haskoning DHV, het die talle inwoners wat die vergadering bygewoon het voorgelig oor die jongste voorstelle, wat gevolg het op besware wat tydens die aanvanklike openbare vergaderings geopper is.
Die beoogde opgradering van die Punt area het ten doel om die gebied tot 'n toerisme ikoon verklaar te kry en te ontwikkel. Een van die voordele van so 'n stap, sal die oprigting van reklameborde op die N2 meebring, wat toeriste, tot voordeel van plaaslike besighede, na die dorp sal lok.
Markowitz het beklemtoon dat 'n oogmerk is om die Punt area, gegewe die argeologiese skatte daarvan, as 'n Wêrelderfenisgebied verklaar te kry, met 'n vertolkingsentrum vir die Pinnacle Point grotte.
Die ontwikkeling is nog in 'n beplanningstadium. Die Raad het op 30 Augustus die gebiedsplan in beginsel goedgekeur. Die Raadsbesluit lui, onder meer, dat die opgradering van die Punt area slegs sal geskied namate fondse beskikbaar word.
Die Raad het R500 000 uit die kapitaalbegroting bestee aan die konsepbeplanning en omgewingimpakstudie. Enige verdere stappe sal bepaal word deur openbare deelname prosesse en die beskikbaarheid van fondse.
Verskeie raadslede het die vergadering bygewoon. Raadslid Nicky Lodewyks het behoorlik kennis geneem van die besware wat deur tientalle inwoners voorgehou is en het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hy hierdie besware gewis verder sal neem.
Die meeste besware het oor die ontwikkelingsvoorstelle gehandel en nie oor die beginsel van vernuwing nie. Daar is passievol bepleit dat behoorlik opgeleide argitekte genader moet word om konsepvoorstelle op te stel wat die ontwikkeling holisties kan benader en konseptualiseer. Sodanige voorstelle moet aan 'n openbare deelname proses onderwerp word, waarna die projek deur professionele argitekte, landskapsargitekte en stadsontwerpers onderneem word.
Daar is beswaar gemaak teen die feit dat die gemeenskap nie in die konseptualiseringsfase geken is voordat 'n raadgewende span aangestel is nie, omdat nou oor net een instansie se voorstelle besluit kan word.
Daar is gevra hoe die Punt-ontwikkeling in isolasie kan plaasvind en dit is bepleit dat die res van Marshstraat, vanaf Kerkstraat en die omliggende areas, ook ter wille van eenvormigheid aan dieselfde vernuwingsproses onderwerp moet word.
Dit is bevraagteken of dit wys sou wees om verskillende raadgewers te gebruik om hierdie twee sones in afsondering van mekaar te ontwikkel. Daar is ook bepleit dat hierdie beoogde ontwikkeling die katalisator van verdere ontwikkeling moet wees. Die ekonomiese voordeel van die ontwikkeling is voorop gehou.
'n Verteenwoordiger van die Khoi gemeenskap het gevra wanneer met hulle vergader gaan word omdat die Punt area vir hulle van groot waarde is. Hy het ook gevra waarom daar nie vantevore met die Khoi as belangegroep vergader is nie.
Daar is veral beswaar gemaak teen die voorgestelde veranderinge omdat dit op die oog af weinig meer as nuut geplaveide areas behels, met parkering wat waarskynlik grotendeels onderbenut sal word. Beswaarmakers het bepleit dat 'n gekoördineerde drukgroep tot stand moet kom om inwonersbelange na behore te verteenwoordig.
Verskeie sprekers het die koste van die voorgenome projek bevraagteken en gewys op beligting wat nou reeds by die Punt aangebring word, terwyl ontwikkelingsvoorstelle juis ander beligtingsvoorstelle insluit.
Dit het egter geblyk dat daar in die breë konsensus bestaan dat daar ekonomiese voordeel opgesluit is in die ontwikkeling van die Punt.

'n Derde voorstel is voorgehou nadat besware op die eerste rondte openbare insette in ag geneem is.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS