Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die walvis- en dolfyntjiesaal in Hartenbos het 'n lang geskiedenis met 'n magdom aktiwiteite wat oor die jare daar aangebied is as deel van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se aanbiedinge.
Al wat oorgebly het van die gebou, is 'n onooglike staalkonstruksie met afgebreekte mure en groen seile wat rondom gespan is.
Denise Lloyd, sentrumbestuurder van die Hartenbos Seefront, vertel dat daar in die volgende paar weke 'n pragtige nuwe gebou sal herrys wat die Eden Expo genoem word en 'n belangrike toevoeging is om die toeristemark te bedien.
Die sentrum gaan 'n permanente uitstalruimte verskaf vir onder andere produkte uit die Klein Karoo en die Tuinroete. "Produkte soos plaaslike wyne, jenewers, olywe, kase, 'n groente- en vrugtemark waar die publiek vars produkte uit mandjies kan kies, 'n delikatessen en 'n vismark."
Die uitstalruimte gaan van Woensdag tot Sondag oop wees en sewe dae 'n week in seisoentye. Daar gaan nie stalletjies wees nie, maar wel "pods" waar 'n opgeleide ambassadeur tot drie "pods" beman en die publiek inlig en vrae beantwoord oor dié spesifieke produkte in die uitstalruimte. In seisoentye sal die eienaars self die "pods" moet beman.
Lloyd vervolg: "'n Bonus is dat daar solarpanele op die uistalruimte se dak aangebring gaan word, wat beteken dat die sentrum sonkrag gaan hê en ons ook nou 'groen' gaan." Die openingsdatum word beplan vir April 2024."
VIDEO - Denise Lloyd, sentrumbestuurder Hartenbos Seefront
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’