Gallery Warning: Graphic content
MOSSELBAAI NUUS - Die Nasionale Seereddings Instituut (NSRI), stasie 15, Mosselbaai, is op Maandag, 13 November, om 12:28 ontbied nadat iets wat soos 'n omgeslaande boot in die see lyk, waargeneem is.
By nadere ondersoek het die NSRI bevestig dat dit die karkas van 'n boggelrugwalvis (Megaptera novaeangliae) is, wat besig was om nader aan die strand te dryf.
FOTOGALERY: Boggelrugwalvis karkas verdwyn en verskyn weer
Die opruimingspan van die Mosselbaai-munisipaliteit is ingelig. Omdat verwag is die karkas binnekort sou uitspoel, kon hulle dan met die opruimingswerk begin.
Die karkas het egter skielik spoorloos verdwyn.
Volgens twee betroubare bronne is die karkas deur 'n plaaslike besigheid na die diepsee gesleep in 'n poging om toestemming te kry vir die verfilming van die mariene lewe wat aan die karkas sou kom vreet, soos robbe en haaie.
Die toestemming is egter nie verleen nie aangesien daar 'n wye verskeidenheid van protokolle is wat gevolg moet word.
Die aansoeke hiervoor word deur die Departement van Bosbou, Visserye, en Omgewingsake hanteer. Die sleep van 'n karkas soos dié is streng verbode sonder die nodige permitte.
Op Woensdag, 22 November, is die karkas weer opgemerk en dit het later uitgespoel by Tergniet in Kusweg, tussen 6de Laan en 9de Laan.
Dit is die derde karkas, wat in die afgelope vyf jaar in dieselfde omgewing uitgespoel het.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het bevestig dat hulle bewus is van die karkas. 'n Kontrakteur is aangestel om die karkas volgens die normale prosedure te verwyder, waar dit in 'n geskikte area op die strand begrawe sal word.
Lede van die publiek word versoek om enige afgesperde areas op die strand te vermy terwyl die kontrakteurs aan die werk is. Die werk sou ná verwagting reeds die afgelope Woensdag (eergister) begin het.
Marine-navorsers het ook ná die karkas uitgespoel het, monsters geneem vir navorsingsdoeleindes.
Werkspanne het die karkas uitgesleep, en die verwagting was dat dit teen gister, Donderdag 23 November, reeds begrawe sou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’