In Voorspelersingel in die Mossdustria Industriële gebied is 'n oorhouplek waar blou sakke vol onverwerkte rommel in grootmaat deur Mosselbaai Herwinning gestoor word voordat dit na Voorbaai vir verwerking geneem word.
Hierdie rommel, berig mnr Anton Landman, mede-eienaar van Mosselbaai Herwinning, kom grotendeels vanaf Danabaai en is die gevolg van die toename in herwonne materiaal wat hoofsaaklik deur vakansiegangers bygedra is.
Sekere buurte herwin meer
"Die woonbuurte Danabaai, Tergniet, Rheebok en Fraaiuitsig dra die meeste tot herwinning by," berig mev Elmarie Landman. Per geleentheid kan hul trokkies tot 140 blou sakke uit 'n woonbuurt verwyder na die herwinningsperseel in Voorbaai. Slegs herwinbare, droë rommel is veronderstel om in die blou sakke weggemaak te word.
Seisoentye verdriedubbel hierdie volume, berig Elmarie. Blou sakke word daagliks van regoor die Mosselbaai munisipale bedieningsgebied verwyder.
By die aanleg in Voorbaai verwerk tot 34 personeel elke sak deur die rommel soort-by-soort te sorteer voordat dit gekompakteer en verkoop kan word. Onbruikbare rommel en vullis word twee maal per week van die terrein na die stortingsterrein by PetroSA afgevoer.
"Die ideaal sou wees dat inwoners die rommel volgens soort sorteer, papier by papier, glas by glas en blikke by blikke, maar die realiteit is dat dit nog nie gebeur nie," sê Elmarie.
Droë produkte
"Herwinbare rommel is oorwegend droë produkte soos papier, plastiek en glas en behoort nie knaagdiere te lok nie," sê Anton in reaksie op 'n leser se kommer oor die massas rommel wat by die perseel in Mossdustria oorgehou word.
"Die probleem is egter dat onbekende persone veral oor naweke hul rommel, wat gewone kombuisvullis insluit, oor die muur of selfs bloot voor die hekke stort. Daar is geen beheer oor wat die publiek stort nie," sê Anton.
Die proses om die perseel in Mossdustria te ontruim sal in die volgende weke momentum kry en Mosselbaai Herwinning is voornemens om die perseel uiteindelik af te gee. Die Voorbaai perseel sal eersdaags opgeknap word om groter volumes te kan hanteer.
Mosselbaai Herwinning, in samewerking met Interwaste, werk saam met die Mosselbaai Munisipaliteit en moedig die gemeenskap aan om verantwoordelik te herwin.
Volgens die munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill, kry huishoudings kry elke drie maande 13 blou sakke vir herwinbare afval, en 13 swart sakke vir onherwinbare afval. "Daar is besluit om die verskaffing van die blou sakke tot alle huishoudings uit te brei om herwinning aan te moedig.
Die publiek word deurentyd deur middel van die koerante, radio en munisipale nuusbriewe aangemoedig om te herwin", het mnr Hill bygevoeg.
Herwinningsmaatskappy kry die minimum vir herwonne materiaal, soos maar 'n skamele 43 sent per kilogram vir koerantpapier, 38 sent per kilogram vir glasprodukte en slegs 20 sent per kilogram vir materiaal wat algemeen herwin kan word.
Sodra die herwonne materiaal netjies gebaal en verpak is, word dit na groter sentra afgevoer waar dit aan instansies soos Mondi, Sappi en Cape Waste verkoop word. Koerantpapier word aan 'n instansie op Atlantis buite Kaapstad verkoop.
Herwinning is 'n arbeidsintensiewe proses en die meeste van Mosselbaai Herwinning se personeel is van die omliggende informele nedersettings.
Mosselbaai Munisipaliteit het die toekenning as groenste munisipaliteit in die provinsie in 2013 verwerf, Mosselbaaiers kan meewerk om hierdie toekenning deur effektiewe herwinning in 2014 te handhaaf.

By die herwinningsperseel in Voorbaai word herwinbare materiaal gesorteer, gekompakteer en gebaal voordat dit na groter sentra vervoer word om verkoop te word. Hier is Khumbulekhaya Mangcotywa by die baalmasjien. Herwinning is 'n arbeidsintensiewe bedryf. Foto: Nickey le Roux

Opgegaarde, onverwerkte blou sakke vol rommel wat vir herwinning bestem is, by 'n perseel in Voorspelersingel, Mossdustria, van waar dit na die perseel van Mosselbaai Herwinning in Voorbaai vir verwerking geneem word. Foto: Verskaf
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mossselbaai, Tuinroete nuus'