MOSSELBAAI NUUS - Die jongste amptelik-gesertifiseerde waardasierol van eiendomme in Mosselbaai, is op Woensdag, 1 Desember na 'n jaarlange proses met talle struikelblokke vanweë Covid-19, aan die waarnemende munisipale bestuurder, Colin Puren oorhandig.
Munisipaliteite wat ten doel het om belastings op eiendomme te hef, is daartoe verbind in terme van die Wet op Munisipale Belastings, Wet 6 van 2004, om indien hulle nie 'n interne waardeerder het nie, 'n eksterne waardeerder aan te stel wat oorhoofs toesien dat 'n waardasierol saamgestel word.
Mosselbaai-munisipaliteit maak gebruik van eksterne waardeerders wat per tenderprosesse aangestel word.
Hierdie proses herhaal elke vier tot vyf jaar, afhangend of dit 'n metro of plaaslike munisipaliteit is. Dit is ook onderhewig aan wat die plaaslike raad hieroor sou besluit. Mosselbaai se huidige waardasierol is in die laaste fase van die vyfde jaar.
Die tydperk van die nuwe waardasierol is vanaf 1 Julie 2021 – 30 Junie 2026.
Intensiewe werk
Sedert die aanstelling van NDK, is daar intensief begin met die insameling van inligting by besighede. Menige e-posse is uitgestuur, afsprake is met besigheidseienaars en/of -bestuurders gemaak.
Verder is daar in die hele munisipale gebied gewerk deur middel van straatinspeksies van huise, vergelykings met bouplanne en lugfoto's en plase is besoek. Akte-inligting van die hele munisipale gebied is vanaf die aktekantoor bekom en hierdie inligting is met bestaande rekords vergelyk en gewysig waar nodig. Inligtingsvergaderings is met landbouverenigings gehou, gevolg deur beriggewing in die plaaslike koerant asook op sosiale media. Plaaslike radiostasies is ook ingespan om die publiek oor die proses in te lig.
Proses
Kennisgewings is per pos, soos wetgewing vereis, aan die eienaars van eiendomme uitgestuur.
Eienaars van eiendomme het dan tyd tot en met einde Januarie om te reageer en beswaar aan te teken teen hulle eie eindomme se waarde, die kategorie of oppervlakte, indien nodig. Toepaslike vorms vir elke tipe eiendom, kan vanaf die munisipaliteit se webtuiste bekom word en is ook by die onderskeie munisipale kantore beskikbaar. Vorms moet volledig voltooi word om as geldige beswaar hanteer te word.
Daar moet binne die gegewe vensterperiode tot die einde Januarie 2022 op kennisgewings gereageer word om iets aan die waardes te verander.
Belastings word vanaf Julie 2022 bereken op die nuwe waardes waarvan nou reeds kennis gegee word.
Volgens wetgewing is die kennisgewingstydperk 30 dae, maar die Mosselbaai-munisipaliteit gee 60 dae grasie ten einde eiendomseienaars genoeg reaksietyd te gee.
Na afloop van die besware tydperk, word besware in die appèlhof hanteer, waarna die appelraad 'n finale beslissing gee.
Die waardes bly onveranderd vir die volle termyn van die waardasierol. Waardes op eiendomme word slegs gewysig na implimentering van die algemene waardasierol, indien daar enige iets met 'n eiendom sou gebeur het, soos 'n onderverdeling, konsolidasie, aanbouing, nuwe oprigting en dies meer.
Eiendomsmark
Mosselbaai se eiendomsmark was en is steeds baie aktief sedert die vorige algemene waardasierol gedoen is. Dit het 'n groot impak op die nuwe waardes van eiendomme. Slegs werklike verkope van eiendomme word gebruik om mee te werk wanneer waardes bepaal word. Die munisipaliteit het parallel met die waardasietenderproses addisionele lugfoto's ook laat neem waarvolgens 'n eiendom uit alle windrigtings besigtig kan word. Dit is nuttig om bougrenslynoorskrydings en of onwettige aanbouings op te spoor. Hierdie lugfoto's is dan beskikbaar gestel aan die waardeerders om hulle taak te vergemaklik.
Volledige waardasierolle, asook beswaarvorms is beskikbaar by: Herbertsdale, KwaNonqaba, D'Almeida, Marshstraat, Hartenbos, Groot-Brakrivier en Friemersheim. Die waardasiekantoor in die Montagu-gebou, Montagustraat sal ook vorms beskikbaar hê.
Die lywige amptelik-gesertifiseerde waardasierol van alle eiendomme in die groter Mosselbaai, is op 1 Desember aan die waarnemende munisipale betuurder, Colin Puren (derde van links) oorhandig. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'