MOSSELBAAI NUUS - “Waar jy lei, sal ek volg.” Só werk die blindenavigatorstydren.
Dit het Saterdag, 12 April, in Hartenbos plaasgevind, en behels dat ’n siende bestuurder deur ’n gesiggestremde maat, wat verantwoordelik is vir die lees van ’n Braille-roeteskedule, gelei word.
Die gesiggestremde maat moet daarvolgens vir die bestuurder van die voertuig aanwysings gee. Die bestuurder is totaal afhanklik van sy of haar navigator.
Die geeste was hoog en die spanne gretig om die pad Saterdagoggend aan te pak. Die deelnemers het by Hart & Bosch Village in Hartenbos ontmoet, en die spanne het met tussenposes van mekaar af vertrek.
Van daar af moes hulle sekere punte oor ’n afstand van 88km bereik voordat hulle hul pad terug na die beginpunt moes vind.
Neels Troskie en Nico de Kock het uiteindelik die kroon huis toe geneem.
Die spanne gebruik hul eie motors in die tydren om in en om die Hartenbos-omgewing te ry, asook op grondpaaie.
Daar is sekere spoedbeperkings waarby bestuurders moet hou - te stadig en jy verloor punte, maar te vínnig en jy verloor ook punte.
Die St. Blaize Lionsklub en hul jonger Leos het vir die eerste keer in 2023 hierdie geleentheid na die Tuinroete gebring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’