HARTENBOS NUUS - Sosiale mediaplatforms het die afgelope week gegons oor 'n vyeboom. Verskeie inwoners wou weet waar die vyeboom, wat eens voor Salt & Copper in die Hart & Bosch Village gestaan het, heen verdwyn het.
Dié boom met sy lowergroen takke en wat 'n wye en uitgestrekte skadukol gegooi het, staan al dekades lank op die stuk grond.
Die presiese ouderdom van die boom of wanneer dit geplant is, is onbekend, maar 'n plaaslike Mosselbaaise inwoner, Heinie Benn, sê die boom was al in 1988 daar toe sy kinders gebore is.
Benn sê sy kinders het onder die einste boom gespeel.
Eienaar van Hart & Bosch Village, Sean Ekström, sê die boom is verwyder van die Hart & Bosch-eiendom.
Hy het aan die Mossel Bay Advertiser by navraag gesê die boom is in September verlede jaar uit die grond gelig en verskuif na 'n ander perseel.
Volgens Ekström is die boom geskuif in ooreenstemming en volgens die riglyne van die Wes-Kaapse Provinsiale Paaie mobiliteitsdepartement.
Die Mossel Bay Advertiser kon op hierdie stomp afkom, wat na wat verneem word, die vyeboom is. Foto: Chelsea Pieterse
Hy sê die rede hiervoor is om die ingang na die hele perseel te akkommodeer.
"Die eienaar van die eiendom moet, volgens provinsiale paaie, 'n regsdraai by die eiendomme se ingang installeer, asook om die "ou" ingang na die restaurant toe te maak. 'n Nuwe ingang moes gebou word om toegang tot die restaurant te verkry, wat die verwydering van die boom veroorsaak het," het Ekström gesê.
Erika van der Westhuizen van die Danabaai-bewarea sê gemeenskapslede in Mosselbaai het na haar gekom met vrae oor die boom.
Sy sê daar is baie nostalgie aan die boom verbonde. "Hierdie dinge is belangrik vir mense, dis die geskiedenis.
Dis nie net die toekoms van die boom nie, maar ook die herinneringe oor die jare," het sy gesê. Na wat beweer word, is die vyeboom hervestig.
Mossel Bay Advertiser het die perseel die afgelope week besoek maar kon nie die vyeboom op die perseel opspoor nie.
Daar was wel 'n stomp, wat na wat verneem word, die oorblyfsels van die boom is.
Ekström sê die boom is verwyder, so ver moontlik afgekap, hervestig en daar word gehoop dat dit mettertyd weer sal uitgroei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’