MOSSELBAAI NUUS - Vuurwerke, reeds jare lank al 'n omstrede kwessie op Mosselbaai, was weer eens in die kollig tydens die mees onlangse ope raadsvergadering.
Die ACDP het 'n dringend mosie in dié verband aan die raad voorgelê. Die mosie het gevra vir "duidelikheid oor hoekom vuurwerke weer goedgekeur is by die Hartenbos Seefront ondanks die belofte aan die publiek dat verlede jaar die laaste een sou wees".
Na wat betroubaar verneem word, is die plan om weer vanjaar 'n vuurwerkvertoning by Hartenbos Seefront aan te bied.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het egter by navraag bevestig dat daar nog geen aansoeke in dié verband deur die munisipaliteit ontvang is nie.
Die aansoek om 'n permit moet minstens 14 dae voor die afvuur van vuurwerke geskied.
Die ACDP sê sy kommer is vir dierelewe sowel as bejaardes wat lei aan demensie en Alzheimer se siekte.
Die mosie lui: "Met die tegnologie wat tot ons beskikking is via laser, hommeltuigvertonings, ens. glo ek dat ons die geleentheid moet aangryp om hiervan gebruik te maak en weg te beweeg van die tradisionele vuurwerkvertonings.
"Veral in die lig van die feit dat ons volgende maand 'n gebeurebeleid in die kamers goedkeur wat enige gebeurtenis uitdruklik verbied wat 'n oorlas en onredelike steurnis vir inwoners is."
In die raad is dit deur die DA gestel dat enige aansoeke wat ontvang word en die goedkeuring daarvan, volgens die verordening insake die beheer van vuurwerke, in die Buitengewone Provinsiale Koerant (gazette) op 20 November 2009 gepubliseer, hanteer sal word.
Die beginsels en oogmerk van die verordening word as volg gestel: "Die munisipaliteit, bewus van sy plig om 'n veilige en gesonde omgewing te verskaf, reguleer in hierdie verordening die afvuur van vuurwerke met die doel om brandgevaar en geraasoorlas te beperk en te voorkom en sy inwoners en eiendom te beveilig en om die gevolge van vuurwerke vir diere en troeteldiere tot die minimum te beperk."
Volgens die verordening kan die munisipaliteit onder meer die volgende doen:
- Enige openbare plek of straat of enige deel daarvan binne die munisipale gebied aanwys as die enigste plek waar vuurwerke afgevuur mag word, onderhewig aan sodanige voorwaardes wat bepaal mag word.
- Op aansoek van die eienaar of wettige bewoner van enige private oop ruimte soos omskryf in die toepaslike soneringskemaregulasies binne sy regsgebied, sodanige private oop ruimte aanwys as 'n plek waar vuurwerke afgevuur mag word.
- Die lys plekke aangewys ingevolge sub-artikels 1 en 2, of enige wysiging daaraan, moet deur die munisipaliteit bekendgemaak word.
- Voorwaardes voorskryf ten opsigte van die datums, tye en ure waarop die afvuur van vuurwerke in enige aangewese gebied mag plaasvind, en kan ook verdere voorwaardes ten opsigte van die wyse van afvuur voorskryf.
Die munisipaliteit het vroeër in Oktober op sy Facebook-blad ook uitgebrei oor die verordening.
"Ingevolge die munisipaliteit se bywette mag vuurwerke slegs op 'n aangewese openbare plek afgevuur word en met die nodige toestemming verleen. Hierdie toestemmings word deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Bomverwyderingseenheid, verleen. Mosselbaai brand-, redding- en rampbestuurdienste is verantwoordelik vir brandveiligheidsinspeksie by geleenthede wat deur die SAPD goedgekeur is.
"Persone wat die verordening oortree, sal beboet word en alle vuurwerke sal gekonfiskeer word. Indien 'n lid van die publiek sien dat ander persone 'n oortreding pleeg in terme van die afvuur van vuurwerke, moet hulle bereid wees om 'n beëdigde verklaring van hul waarnemings aan die polisie af te lê."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’