MOSSELBAAI NUUS - 'n Vuurwapenlisensiehouer sê hoewel hy telkemale probeer het om sy lisensies te hernu, niemand by die polisiekantoor beskikbaar was om hom daarmee te help nie.
Die inwoner, Black Swart is 'n professionele jagter en besit verskeie vuurwapens.
Hy sê hy het reeds op 25 Januarie met al sy nodige dokumentasie by die polisiestasie op Groot-Brakrivier aangeklop sodat hy vuurwapenlisensies kon hernu.
Swart sê 'n polisiebeampte het na die vervaldatum van sy lisensies gekyk en toe aan hom gesê dat hy 'n afspraak vir 15 Februarie moet maak, wat volgens die polisiebeampte nog betyds sou wees.
Op die betrokke dag is Swart terug na die polisiekantoor om sy aansoeke in te handig.
Hy is toe meegedeel dat die polisiebeampte wat hom daarmee moet help, met siekverlof is.
"Ek het vir die ander lede daar gevra wat my dan volgende te doen staan, maar niemand kon my help nie. Ek wou toe 'n beëdigde verklaring aflê sodat ek 'n bewys vir myself het dat ek betyds was om my lisensies te probeer hernu. Maar niemand was bereid om dit te teken of te stempel nie."
Swart is toe na die Mosselbaai-polisiestasie verwys. Ook daar is hy weggewys omdat die polisiebeamptes glo nie 'n ander tak mag help nie.
Hy het intussen uitgevind wanneer die polisiebeampte wat met siekverlof was weer aan diens sou wees en het op die betrokke dag weer by die polisiestasie op Groot Brak aangeklop. Weer is Swart weggewys omdat die beampte steeds siek was.
Intussen het die sperdatum waarop Swart sy vuurwapenlisensies moes hernu, verval.
"Ek weet regtig nie wat om nou verder te doen nie. Ek wou baie graag my lisensies hernu, maar niemand kon my help nie."
Die Mossel Bay Advertiser het intussen 'n navraag oor die voorval aan die polisie gerig.
Hierdie is van die wapens wat in Black Swart se besit is maar waarvan die lisensies nou verval het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'