Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Inwoners van die Birkenhead-woonstelle, ook bekend as die Mossgass-woonstelle en in die gemeenskap onvleiend as die "vuil flatse" geëtiketeer, lyk nou weer soos 'n nuwe sikspens nadat dit geverf is.
Dit volg nadat Ruwacon die woonstelle se aansig as deel van 'n Mandeladagprojek in ere herstel het.
Die toestand van die woonstelle is vir jare al 'n dilemma in die gemeenskap met inwoners wat hande in die hare was oor hoe om die saak te beredder.
Theo Wessels, Ruwacon se areabestuurder in die Suid-Kaap, Johann Joubert, die konstruksiebestuurder en Coenie Nel, die terrein-ingenieur het op die pleidooi van die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal reageer en teruggeploeg in die plaaslike gemeenskap deur die woonstelle op te kikker.
Fotogalery: Ruwacon verf Birkenhead woonstelle vir Mandeladag
Op Vrydag, 16 Julie het Levendal, vergesel deur die wyksraadslid, raadsdame Rosina Ruiters, ook uitvoerende onderburgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en raadslid Niklaas Booisen, die portefeuljevoorsitter vir gemeenskapsveiligheid, saam met die waarnemende munisipale bestuurder, Colin Puren, die projek besoek.
Kyk 'n video van Magda Pretorius hieronder:
"Dankie, Ruwacon, dat julle gehoor gegee het aan my versoek en vir die groot verskil wat julle omgee aan soveel mense in ons gemeenskap maak," het Levendal tydens 'n besonderse gesellige besoek gesê waartydens daar in die gees van welwillendheid worsbroodjies voorberei en aan al die betrokkenes uitgedeel is.
"Ons is inwoners is regtig bly oor woonstelle wat geverf is. Ons het besluit genoeg is genoeg en het probeer om woonstelle reg te ruk, want wie kan in so toestand bly en die woonstelle is in die gesig van die N2. Na klomp vergaderings is daar na ons nood geluister. Na al die moeite, is die 'vuil flatse' soos die gemeenskap dit noem, uiteindelik na soveel jare geverf," berig Jonathan Gelderbloem wat reeds drie jaar in die gebou woon.
Aangesien daar lank nie onderhoud aan die gebou gedoen is nie, heers kommer onder die inwoners oor die kwaliteit van die verfwerk te midde klammigheid aan die voorkant van die gebou wat min direkte sonlig kry.
Johann Joubert, die konstruksiebestuurder het egter by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die maatskappy nog ander projekte in die omgewing het en dus beslis hulle oog op die woonstelgebou sal hou.
Daar was 'n feestelike atmosfeer toe die Birkenhead-woonstelle uitgeverf is. Voor staan raadsheer Harry Levendal, uitvoerende burgemeester van Mosselbaai saam met betrokkenes, onder meer Ruwacon wat die projek as deel van hulle Mandeladag-uitreik aangepak het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'