MOSSELBAAI NUUS - Met 36 lede teenwoordig, het Voëlvlei se VLV-tak op Gouritzmond vergader vir hulle Februarie-vergadering.
Gesondheid was aan die beurt vir die maand en Lilian Marais, fisioterapeut van Mosselbaai, het die dames op ‘n baie interessante wyse ingelig oor vrouegesondheid.
Die menslike liggaam het ‘n wonderlike manier om self te herstel. Die waarde van oefening in die proses mag nooit onderskat word nie. Die dames is gewys op die regte oefeninge vir onder andere die pelviese vloer, vir balans, vir stres wat dikwels die oorsaak is van hoofpyn en ook vir die versterking van die boudspiere en nek. Dit is belangrik om oefeninge te doen wat vir jou werk, byvoorbeeld dans, lag, enige beweging soos stap, swem en ook om oog te knip. Wanneer oefeninge vir jou stres veroorsaak, moet jy liewer iets anders doen waarvan jy hou.
Pyn is iets wat dadelik aangespreek behoort te word. Die brein reageer op pyn en jou denke beïnvloed die herstel van die deel van die liggaam waar dit pyn. As pynstillers eerste gebruik word, en die pyn verdwyn, begin die liggaam self sy eie herstelproses.
Verder is die dames geleer hoe om reg te buk en iets op te tel. Lilian het ook die proses van spieëlbehandeling vir beroertepasiënte verduidelik, iets wat almal baie interessant gevind het. Die waarde van goeie en genoeg slaap is ook beklemtoon.
Die lede het ook baie fluks deelgeneem aan die kompetisies. Tot 18 inskrywings per item is ingeskryf.
Asemrowende rangskikkings met vetplante het die beoordelaar se werk baie moeilik gemaak. So ook die interessante piekniekslaaie in bottels. Vrugtelekkers en oortreksels vir elektriese apparate was ook op die kompetisiespyskaart.
Na ‘n baie aangename vergadering is die lede weer opnuut aangevuur vir die Maart-byeenkoms.
Asemrowende rangskikkings met vetplante het die beoordelaar se werk baie moeilik gemaak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'