Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Ses vroue het op 29 Januarie vanaf Gauteng begin stap en het op Vrydag, 17 Februarie ná 17 dae se stap by die Waterfront in Hartenbos aangekom.
As deel van Dynamic Women for Children (DWFC) se Cape2Care Projek, is dit hulle onbaatsugtige poging om minderbevoorregte kinders die geleentheid te gee om hulle volle potensiaal te bereik.
"Julle is yster vroue, baie geluk," het Marleen van der Walt, eienaar van DWFC gesê nadat al ses van hulle die eindpunt op Hartenbos na bykans 1 480km net na 11:00 bereik het.
Van der Walt het saam met Rika Lize Vosloo, Hanlie Reynecke, Louise Mostert, Marina du Plooy en Michelle van Biljon hulle staptog begin by die Riviera on Vaal in Vereeniging.
Hulle is ook vergesel deur die bestuurder van die bystand-voertuig, Pieter Gouws wat teen slakkepas al die pad agter die vroue gery het.
Die stap het hulle oor Heilbron, Marquard, Aliwal-Noord, Queenstown, Grahamstown, Port Elizabeth, Jeffreysbaai, Plettenbergbaai tot by Hartenbos geneem. Verskeie ander dorpe is ook besoek.
'n Plaaslike inwoner, Erika Myburgh was saam met Van der Walt, van 2008 tot 2012 betrokke by hierdie nie-winsgewende organisasie in Pretoria en was ook deel van die stigtingproses.
Nadat Erika en haar gesin in 2012 na Mosselbaai verhuis het, het Marleen en haar dogter Michelle DWFC in totaliteit verder bestuur.
Die projek is in samewerking met Rauch Gertenbach Prokureurs gedoen en verskeie ander besighede was ook betrokke. Rauch Gertenbach se personeel en verskeie ander stappers het die laaste deel van die vroue se staptog meegemaak.
Dit was in die reën maar dit het die dinamiese vroue nie gekeer nie. Hulle is voor hul aankoms by die Waterfront deur leerders by Laerskool Hartenbos verwelkom waarna hulle die 1 480km staptog by die Waterfront geëindig het.
Meer inligting oor DWFC en hulle projekte is beskikbaar op die volgende webblad: www.dwfc.org.za
Kontakbesonderhede vir DWFC is Marleen (082 574 2693) of Michelle (072 564 7495).
VIDEO -1480km se staptog vir behoeftige kinders
Die stappers in 'n vrolike luim by Klipheuwel in Klein-Brakrivier.
Die laaste tree van links is Hanlie Reynecke, Rika Lize Vosloo, Marleen van der Walt, Michelle van Biljon, Louise Mostert en Marina du Plooy. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'