MOSSELBAAI NUUS - 'n Uiters gesellige en luisterryke Koppie vir Kansa-byeenkoms het Saterdag in die ATKV se Skoffelskuur plaasgevind waar sowat 180 vroue (en so paar manne!) na bekende spreker Hannes van Wyk (kykNET Kwêla-aanbieder) kom luister het.
Die immer gewilde Hannes het behoorlik die vroue se lof besing en met pittige gesegdes die gehoor soms laat skater en ander kere weer met meer erns, laat trane afdroog.
Hy het 'n baie spesiale liefde vir sy eie moeder van 84 en het die gehoor op 'n herinneringsreis geneem van die een persoon wat 'n werklikheid in elke mens se lewe is. Daar is hulde gebring aan moeders, mams, moeksies, ma's en mammas… deurlopend was dit egter duidelik dat vroue die stene van elke gebou is.
Die bekende kos-foendi, Ian Perryman en plaaslike sjef, Ronel Stopforth het 'n kort kosdemonstrasie gehou waar hulle 'n rooibosbessie- en amandelslaai met groen blare en sesamesaad mayo, rubarbersorbet en gemengde brosneute voorberei het vir 'n heerlike ligte gereg.
Daarna het Hannes 'n onderhoud op eg Kwêla-wyse gevoer met Sadiyah Moerat, die Cansa Global Hero of Hope. Sadiyah het met haar positiewe gesindheid getuig hoe daar lewe en hoop na die diagnose van kanker is en dat sy haar geroepe voel om hierdie boodskap uit te dra namens die duisende mense wat nie stemme het nie.
Die pragtige sangstem van Christo Esterhuizen, elegant versierde tafels, heerlike eetgoed en lekker kuier saam met vriendinne rondom die fondsinsamelingsgleentheid vir Kansa, het van die spesiale oggend 'n reusesukses gemaak en Minette van Zyl, die organiseerder het haar dank aan alle borge, gasvroue en elke persoon wat op een of ander manier gehelp, het oorgedra.
Noeleen Olivier, Beaulah Wepener, Karin Phipson, Hannes van Wyk, Annie Knoesen, Joanie van Aswegen, Maggie Smith en Minette van Zyl was onder die vele gaste wat die heerlike kuieroggend geniet het.
Die Global Hero of Hope, Sadiyah Moerat is deur Hannes van Wyk ondervra oor haar hantering van kanker in haar lewe.
Hannes van Wyk was die gasspreker tydens die Kansa-geleentheid.
Foto's: Tersia Marais
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'