MOSSELBAAI NUUS - Die Midbrak-buurtwag het twee vroue vereer tydens hulle onlangse algemene jaarvergadering omdat hulle, danksy oplettenheid en sorgsaamheid 'n bejaarde vrou se lewe gered het.
Lucia du Plessis, die buurtwag se sekretaresse en Cecile Wait, beide tuisversorgers, het die besonderse toekenning ontvang.
Cecile Wait het onraad bemerk toe sy haar bejaarde buurvrou twee dae lank nie gesien het nie en vir Lucia gekontak. Die twee vroue het gaan ondersoek instel by die vrou, wat toe in jaar tagtigs was se huis.
Aangesien die buurtwag se operasionele spanne elders besig was, het die twee vroue gaan ondersoek instel en die bejaarde vrou in haar huis gevind waar sy tussen die bed en die bedkassie in haar slaapkamer ingeval het. Die vrou het alleen in haar huis gewoon. Ambulanspersoneel wat op die toneel was nadat die vroue alarm gemaak het, het bevestig dat die bejaarde vrou 'n beroerte gehad het.
"Ek is nie seker hoe lank sy daar moes gelê het nie, maar haar liggaam was koud gewees," sê Lucia. Sy het bevestig dat die bejaarde vrou hierna deur haar kinders in 'n sorgeenheid vir bejaardes gesit het, waar sy intussen oorlede is.
"Lucia en Cecile het hierdeur gestalte gegee aan dit waarvoor 'n buurtwag behoort te staan. Wees daar vir jou bure. Kyk na mekaar en wees veilig," sê raadslid Anton Dellemijn. Raadslid Dellemijn is die buurtwag se ambassadeur.
Tydens die vergadering het Juan Barnard van By Grace EMS die buurtwag toegespreek oor hoe om in 'n mediese noodgeval op te tree, asook die hantering van 'n oorledene, sou die bepaalde omstandighede dit vereis.
Die buurtwaglede is geloof vir hulle harde toegewyde werk en ook die suksesse wat behaal is. Die bestaande bestuur is herverkies vir nog 'n termyn.
Lucia du Plessis en Cecile Wait ontvang sertifikate van erkenning vir diens aan die Midbrak-buurtwag. Saam op die foto is (van links) raadslid Anton Dellemijn, Juan Barnard (eienaar By Grace EMS), Lucia en Cecile, raadslid Annatjie Janse van Rensburg en Jacques Radley (ondervoorsitter van die buurtwag).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'