MOSSELBAAI NUUS - Terwyl die lewe sy natuurlike loop neem en hoewel daar 'n veelvoud produkte op die mark is om vroue so normaal moontlik hulle gang te laat gaan, is dit amper ondenkbaar dat jong meisies in Mosselbaai genoop is om ou stukke lap of koerantpapier te gebruik tydens hulle menstruele siklus.
Volgens inligting, is die ander alternatief om vir 'n paar dae uit die skool te bly totdat hulle siklus verby is. Dit het uit die aard van die saak 'n negatiewe effek op hulle skoolwerk, wat nog te sê van die impak op hulle menswaardigheid.
Verlede Saterdag, 7 Julie het 'n groep vroue in Mosselbaai byeengekom op inisiatief van die Garden Route Ladies Circle om Project Dignity bekend te stel. Volgens die voorsitter van die organisasie, Elaine Harmse van Hartenbos, is hierdie maar een van die projekte wat hulle ondersteun. Project Dignity het ten doel om skoolafwesigheid en gevolglike skoolverlating teen te werk deur jong meisies opvoeding aangaande en toegang tot sanitêre produkte te gee.
Vanweë die ekonomoiese druk op huishoudings, veral in die afwesigheid van volwasse sorg, is daar eenvoudig nie fondse vir sanitêre produkte nie.
Project Dignity promoveer die gebruik van wasbare sanitêre doekies wat vir 'n periode van 3-5 jaar hergebruik kan word. Die produk bevat nie chemikalieë en ander elemente wat gifstowwe vorm wat tot kanker kan lei nie. Die hergebruik van die produkte bring ook 'n groter omgewingsvriendelikheid mee. Project Dignity verskaf ook basiese opvoeding in vrouegesondheid met die oog daarop om jong vroue te bemagtig.
"Met hierdie fondsinsamelingsprojek beoog ons om produkte aan te koop wat beskikbaar gestel sal word waar die nood die hoogste is," het Harmse vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Sy sê dat dit in oorleg met die Mosselbaai-munisipaliteit gedoen sal word. Raadslid Venolea Fortuin, wat die portefeuljes maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling behartig, het ook die geleentheid met die oog op samewerking bygewoon.
Harmse het gesê dat die Garden Route Ladies Circle verdere fondsinsamelings in hierdie verband beplan. Enige persoon wat meer inligting benodig of graag 'n bydrae sou wou lewer, kontak Elaine Harmse (072 294 6180).
'n Groep vroue het verlede week die bekendstelling van Project Dignity bygewoon. Hulle beoog om jong vroue groter toegang tot sanitêre produkte te gee.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'