Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - ‘n 40-jarige vrou van die Hartensee woonkompleks wat gister omstreeks 10:00 in die kompleks verkrag is, is die afgelope drie maande deur ‘n onbekende man geteister.
Die Mossel Bay Advertiser het betroubaar verneem dat die slagoffer en haar man onlangs die voorvalle aangemeld het.
Die bekruiper het na wat verneem word onder meer vir die slagoffer briewe geskryf en sy was bewus daarvan dat sy bekruip word.
Die slagoffer is gister deur 'n man oorval terwyl sy besig was om wasgoed op te hang.
Hy het haar by die huis ingedwing en verkrag.
Sy het verskeie beserings opgedoen, onder meer kneus merke aan haar nek en oor haar lyf.
Die woonkompleks bestaan uit 75 eenhede, waarvan 48 woonstelle is en die res meenthuise.
Die slagoffer en haar man huur na wat verneem word reeds die afgelope vier jaar ‘n woning in die kompleks.
Die kompleks het ‘n muur met roldraad op maar daar is nie ‘n sekuriteitswag nie. Toegang word verkry deur ‘n hek met ‘n afstandbeheer en ‘n kanthekkie waarvoor inwoners ‘n kode het.
Die vermoede bestaan dat die verdagte oor die muur toegang tot die kompleks verkry het.
‘n Betroubare bron het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat beeldmateriaal ‘n man afgeneem het wat onlangs ‘n brief onder die slagoffer se deur sit. Die persoon het egter ‘n balaclava gedra en sy gesig is nie herkenbaar nie.
Die verdagte word beskryf as ‘n blanke man met bruin oë, blonde hare en ‘n skerp ken.
Hy was geklee in ‘n donkerblou T-hemp, denimbroek en ‘n donkerblou pet waarop daar in wit geskryf is en het swart veiligheidstewels aangehad.
Enige persoon met inligting word versoek om die ao Tata Marks te kontak (082 778 7290 of 084 675 5334).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'