HARTENBOS NUUS - ‘n Vrou van die Vrystaat sterk steeds in die Life Bay View Privaat Hospitaal op Mosselbaai aan, nadat sy Woensdagaand met beurtkrag by die ATKV selfsorg-rondawels op Hartenbos op ‘n pofadder getrap het.
Cecile Koen (32) en haar man, Johan, kuier op Mosselbaai die naweek waar die SA Toutrekkampioenskappe plaasvind.
Johan is ‘n afrigter in dié sport by Landboudal, ‘n skool in die Suid-Vrystaat wie se toutrekspan ook die naweek by die Van Riebeeck Stadion in aksie is.
“Ek en Cecile en ons kinders het in die donker na ons rondawel gestap. Dit was so ongeveer 21:30 toe sy gil en sê iets het haar gebyt,” sê Johan.
Die egpaar het drie kinders wat onderskeidelik 10 jaar, agt jaar en een jaar oud is.
“Die kinders het met hulle selfoon se liggies op die gras geskyn, toe lê die pofadder daar.”
Johan sê hulle het so groot geskrik, dat hulle die pofadder net so gelos het en met Cecile na die hospitaal gejaag het.
Hy sê dit gaan onder omstandighede goed met haar.
'n Foto van Cecile Koen se voet nadat sy deur 'n pofadder gebyt is. Foto: verskaf
“Sy is in ‘n gewone saal. Sy het nog nie ‘n slangbyt-teengif ontvang nie.”
Volgens Johan voorspel die dokters dat Cecile teen Sondag sal mag huistoe gaan.
Plaaslike slangvanger, Devon de Villiers sê ‘n pofadder lê stil en kamofleer goed, daarom trap mense maklik op ‘n pofadder.
De Villiers sê dit is hoekom ‘n pofadder Suid-Afrika se gevaarlikste slang is.
“Sy gif is sitotoksies, wat beteken dit smelt die lewende weefsel weg. Dit is ook ‘n baie pynlike ervaring.”
Suid-Afrika het tans ‘n tekort aan slangbyt-teengif.
De Villiers sê pofadders is volop in die gebied weens plaagdiere, soos rotte en muise.
Hy sê hy het die afgelope week sewe pofadders tussen Klein-Brakrivier en Danabaai en onder meer Hartenbos verwyder.
Die Koen gesin.
“Pofadders is aktief in die aande. Hulle lê op die roete van ‘n muis. Die slang kan ruik waar die muise is en dan lê die slang stil en wag vir die muis om verby te kom. Dan byt hy die muis en eet dit.”
Volgens De Villiers moet iemand wat op ‘n pofadder trap, nie die bytplek toedraai nie. “Die weefselskade gaan dan erger wees. Jy moet dit net los en dadelik hospitaal toe gaan.”
Slangvanger Devon de Villiers, sê ‘n pofadder lê stil en kamofleer goed. Foto: verskaf
“As jy op ‘n pofadder afkom, moet jy hom nie probeer dood maak nie, dit is die vinnigste ‘’striking’’ slang in Suid-Afrika en die kans dat jy gebyt sal word terwyl jy die slang probeer dood maak, is baie hoog. Hou die slang van ‘n veilige afstand dop en bel ‘n slangvanger.”
Indien jy op 'n slang afkom, kontak De Villiers by 076 781 0528.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’