MOSSELBAAI NUUS - 'n Bejaarde vrou se handsak is 'n tyd gelede in 'n klerewinkel in die Mosselbaai Mall gesteel na een van die diewe haar kop vermoedelik vasgehou en in die rakke ingedruk het, terwyl die ander dief haar handsak uit die winkeltrollie gevat het.
Alta le Roux (68) van Danabaai het op 12 Junie eers vinnig 'n draai gemaak by die Food Lover's Market in die sentrum en het die sakke met vrugte en groente bo-op haar handsak binne die winkeltrollie gesit.
Daarna het sy geld gaan trek by die tellermasjien en na die klerewinkel, Pick n Pay Clothing gegaan om verder inkopies te doen.
Alta se man Pieter, het aan Mossel Bay Advertiser vertel wat toe verder gebeur het. Hoewel hy by die huis was en nie saam met sy vrou nie, het hy later alles op die sentrum se geslote baan-kameras gesien.
"Daar was vyf persone in die winkel. Twee werknemers, my vrou en twee mans waarvan een in die volgende gang van my vrou af was," vertel hy. "Een van die diewe het Alta van agter genader en haar kop vasgedruk tussen een van die rakke terwyl die ander een die handsak uit die winkeltrollie gegryp het."
Alta was so geskok oor wat gebeur het dat sy eers later besef dat haar handsak en beursie vermis is. Albei is van egte volstruisleer en het haar identiteitsdokument, bankkaarte, bestuurslisensie, motorsleutels, selfoon en 'n kontantbedrag van R2 300 bevat.
Goeie én swak diens
Alta is terug na Pick n Pay Clothing waar hulle haar geleentheid gegee het om haar man te skakel. Pieter het Bidvest Protea Coin-sekuriteit se Edwin Vaaltuin bedank wat die teenwoordigheid van gees gehad het om 'n wielklem aan Alta se voertuig te sit, sodat die diewe nie met haar sleutels wat in haar handsak was, haar voertuig kon steel nie.
"Toe begin die ergste van die hele storie. Ons is na binnelandse sake om aansoek te doen vir haar ID en hulle kon nie haar vingerafdrukke geskandeer kry nie. Hulle het net vir haar gesê 'you can go home and come another day'," vertel Pieter.
Daarna is hulle na die lisensiekantore waar hulle flink diens ontvang het. "Hulle het namens Alta aansoek gedoen by binnelandse sake met 'n ou ID van 1967 vir haar ID-dokument."
Alta het 'n tydelike rybewys en ID-dokument ontvang. "Met Pick n Pay se areabestuurder, Leon Viviers, kon ons egter nie regkom nie. Hoewel Alta volgens Pieter baie geskok was en medikasie moes kry na die voorval, gaan dit nou beter.
Janine Caradonna, woordvoerder vir die winkelgroep het in 'n verklaring aan die Advertiser die voorval bevestig en het die personeel Alta bygestaan nadat sy hulle ingelig het van die diefstal. Volgens Caradonna het die winkel se personeel Alta se man, Pieter asook die polisie gekontak.
Die winkelgroep beveel egter aan dat kliënte nie hul persoonlike besittings in winkeltrollies sit nie. 'n Saak van diefstal is by die Mosselbaai-polisie geopen en die saak word ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'