Pastoor Jennifer Saal beskryf haarself as 'n burger van Aslapark. Dis hoekom sy die nood daar so goed verstaan. "Ek is nou 17 jaar hier. Ek het hier gekom toe Asla nog amper niks en net grondstrate was. Jy moet hier wees om werklik die nood onder mense te verstaan."
Dit is hierdie nood wat past Saal se roeping is. Vir die afgelope bykans 10 jaar bedien sy die gemeenskap van Alsa en ontmoet sy mense in hulle uiterste nood. Gebaseer by die Alsa-gemeenskapsaal hou sy kerk. Sy het verslaafdes al gerehabiliteer en werk met mishandelde vroue. Sedert verlede jaar, bedryf sy ook 'n kleuterskool op die perseel waar 15 kleuters tans 'n heenkom vanuit die strate vind. Sy het 'n kursus by SmartStart gedoen ten einde die kleingoed in haar sorg te kan toerus vir skool.
Sy gebruik haar perseel met die goedgunstige toestemming van die Mosselbaai-munisipaliteit, wat onlangs ook toestemming gegee het dat sy die bestaande fasiliteit mag vergroot.
"Ek is bitter dankbaar teenoor die munisipaliteit. Ek maak groter, maar waarmee, weet ek nog nie want geld is daar nie." Op die perseel, woel dit egter. Twee bouers is bedrywig met die fondasies, maar die nood aan materiaal is groot.
"Ek weet nie hoe dit alles tot stand gaan kom nie, maar ek het net 'n rustigheid in my, want ek weet ek moet dit doen en ek weet ook die Here sal voorsien."
Pastoor Saal meen dat sy al baie keer by die huis gekom het aan die einde van 'n dag en moedeloos was. "Ek sê baie keer vir die Here - 'ek quit Here, ek is nou klaar met hierdie job', maar dan die volgende dag, is dit weer 'n hele ander storie want die mense bly kom en vra."
Sy reken die gemeenskap kom juis na haar toe in hulle nood, omdat sy 'n vrou is. Haar man is ook in die bediening.
"Aan die begin het my kinders nie altyd verstaan wat ek doen nie. Maar ek werk ook nou beter met tyd as destyds. Ek het baie roepings - ek is 'n ma, 'n pastoor, 'n eggenoot, 'n berader."
Tans is haar behoefte aan materiaal om die gebou waaroor sy droom, waar gebrokenes moet kan heling vind, te kan voltooi. Daar is ook meublement nodig, matrassies vir die kinders om op te slaap, eetgerei en bestanddele vir die maaltye wat sy aan die kleingoed verskaf. 'n Klomp goed.
Enigiemand wat graag wil bydra tot volhoubare hulp aan die Asla-gemeenskap deur middel van past Saal se Pniël-bedieninge, kontak haar (073 331 7303 ). Enige bydraes kan inbetaal word by RJ Saal, Capitec Spaar, rekeningnommer 1249543159.
Met toestemming van die munisipaliteit om haar perseel te vergroot, is sy vuur en vlam. Maar hulp in terme van materiaal, is dringend nodig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'