MOSSELBAAI NUUS - Die KwaNonqaba Polisie in Mosselbaai, het 'n dossier geopen nadat die liggaam van 'n 47-jarige vrou Donderdag, 22 Desember uit die see by Vleesbaai gehaal is.
Volgens die Wes Kaapse polisiewoordvoerder, verantwoordelik vir die Suid-Kaap, sersant Christopher Spies, was die vrou saam met familielede op die strand toe sy ongeveer 11:00 gaan swem en in die water verdwyn het.
Lewensredders het ingeswem om die vrou te soek en het haar uit die water gebring. Sy is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.
'n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van haar dood vas te stel. Die polisie-ondersoek duur voort.
Veiligheidswenke:
Die polisie het 'n beroep op die publiek gedoen om ekstra waaksaam te wees as hul kuier- en swemplekke besoek, tydens die feesseisoen. Waterveiligheid is van kardinale belang. Volg dié veiligheidswenke as uitstappies op riviere, damme, by swembaddens en op die strand beplan word.
- Moet nooit jong kinders sonder toesig naby water los nie en moet ook nie 'n kind verantwoordelik maak om na jonger kinders om te sien nie - nie eens vir vyf minute nie. Leer kinders om altyd toestemming te vra voor hulle naby water gaan.
- Bestudeer die weer en getye voor jy die huis verlaat. As die see stormagtig is, is die kanse goed dat seestrome jou gaan meesleur.
- Gaan net in die water as die branders matig is en reguit uitspoel strand toe.
- Moet nie swem as jy onder die invloed is van alkohol nie. Alkohol beïnvloed mense se oordeel wat lei tot onnodige risiko-gedrag.
- Swem net waar lewensredders aan diens is en doen navraag by die lewensredders oor swemtoestande voor jy in die see ingaan.
- Moet ook nie na 'n groot ete gaan swem nie, omdat dit tot krampe kan lei.
- Moet nooit in vlak water induik nie. Maak eers seker van die diepte.
- Moet nie in riviermondings, vuil water of baie vroeg in die oggend en vroegaand swem of as dit net gereën het nie. Haai-aktiwiteite neem dan toe.
- Moet ook nie swem as daar bloublasies in die water is nie, want hulle is giftig.
- As 'n kind vermis word, kyk eerste in die water. 'n Paar sekondes kan 'n lewe red of permanente breinskade voorkom.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'