MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van ACVV Seebries-tehuis, Onse Rus wat in November 106 jaar oud word, het onlangs positief getoets vir Covid-19 en die virus oorwin.
Dalene Nieuwoudt was deel van die 12 inwoners wat in Julie positief vir die virus getoets het en in 'n Covid-19-saal by die tehuis behandel is.
Haar skoondogter, Lulu Nieuwoudt woon ook op Mosselbaai en sê hulle was almal baie angstig toe hulle die nuus van Dalene se uitslag kry.
Sy sê hoewel Nieuwoudt positief vir die virus getoets het, het sy geen simptome getoon nie. "Sy is in die Covid-19-saal geplaas saam met die ander inwoners wat positief getoets het, en het springlewendig daar uitgekom." Niewoudt het boonop as kind die Groot Griep in Suid-Afrika oorleef.
"Ons kon gedurende haar kwarantyntydperk nie met haar kontak maak nie, maar het briefies saam met eetgoed vir haar afgelaai. Daarin het ons aan haar verduidelik dat Covid-19 amper soos die Groot Griep is, sodat sy kon verstaan hoekom sy ons nie mag sien nie," sê Lulu.
Nieuwoudt woon reeds die afgelope 15 jaar op Mosselbaai en het hierheen getrek vanaf Franschoek toe haar man oorlede is. Sy is reeds sedert sy 100 jaar oud is 'n inwoner van Onse Rus. Volgens Lulu is haar skoonma se verstand nog helder. "Sy is wel swak en kan nie loop nie. Maar, ons kan vir ure aan haar lippe hang wanneer sy vir ons stories vertel. Sy is 'n skatkis van geskiedenis." Nieuwoudt het drie kinders, agt kleinkinders en 11 agterkleinkinders.
Mosselbaai burgemeester, Harry Levendal, saam met Dalene Nieuwoudt op een van haar verjaarsdae.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'