MOSSELBAAI NUUS - 'n Saak van roekelose-en-nalatige bestuur word deur die Groot-Brakrivier-polisie ondersoek nadat 'n vragmotor van Reebokstene se remme op Woensdag, 22 Februarie onklaar geraak het en teen 'n kleiner 1-ton bakkie gebots het.
Volgens die woordvoerder van die Groot Brak-polisie, sersant Lauriane Botha, het die bestuurder van die vragmotor gesukkel om die voertuig op die steil afdraande pad in Kiewietlaan, te beheer en dit het teen die kleiner voertuig wat vanuit Standerstraat in Sandpadhoogte ingedraai het, gebots.
Dié kleiner voertuig is deur 'n omheiningsmuur van 'n eiendom in Sandpadhoogte en het op sy sy te lande gekom. Die groter vragmotor is ook deur die muur van 'n aangrensende huis.
Die vroulike bestuurder van die kleiner voertuig, Theresa Visser (44) is met 'n ambulans na die George-hospitaal geneem. Daar moes sy vir 14 ure stil lê met 'n nekstut, terwyl verskeie toetse op haar gedoen is.
Theresa vertel dat haar lyf verskriklik seer is waar die veiligheidsgordel styf getrek het. Sy is oraloor pimpel en pers. Haar linkerarm moes steke kry en haar linkerbeen het ook 'n sny opgedoen. Sy het nie die vragmotor gesien kom nie, maar het wel die verskriklike slag gevoel en "myself in 'n ander bloedgroep in geskrik. Dit is soos in die flieks waarin alles in slow motion gebeur. Ek het my ma en suster twee jaar gelede binne 'n maand en elf dae aan die dood afgestaan. Dit het vir my gevoel asof hulle daar was om my te help."
Die steke in haar arm is Dinsdag, 28 Februarie uitgehaal. Die vragmotorbestuurder, (59) en sy passasier het ligte beserings opgedoen en is op die toneel behandel.
Polisielede en ondersoekers van die Groot- Brakrivier polisiestasie op die toneel waar die kleiner voertuig op die sy lê.
Polisie en nooddienspersoneel op die ongelukstoneel in Sandpadhoogte, Groot-Brakrivier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'