MOSSELBAAI NUUS - Om jou welverdiende vakansietyd op te offer is nie altyd maklik nie, maar vir 'n handjievol leerders van Erika Primêre Skool het dit beslis dividende gelewer.
Dié groepie kinders is deel van die skool se musiek- en drilakademie wat deur Josie Domingo in samewerking met die Da Gamaskop-polisiestasie gedryf word.
Met die aanvang van die skoolvakansie het hierdie toegewyde groepie onder leiding van konstabels Marcel Prinsloo en Dillon Domingo, wat onderskeidelik die dril- en musiekopleiding behartig het, met oorgawe aangetree om meer te leer.
Konstabel Prinsloo, duidelik 'n ou hand in die oplei van drilpeletons meen dat die jong klomp aanvanklik 'n bietjie skrikkerig was, maar gou hulle voete gevind het. Die opleiding het Maandag tot Vrydag vir twee weke lank vanaf 09:00-14:00 plaasgevind. Die polisie het ondersteuning gebied wat vervoer en iets te ete betref. En so tussen die oefening deur, was daar darem 'n uitstappie of twee ook.
Volgens kst Prinsloo, was die oogmerk van die drilopleiding veral om beginsels soos respek en dissipline te vestig. Na die twee weke se harde werk, meen hy, is daar inderdaad 'n lekker samehorigheid onder die groep.
Konstabel Domingo, self 'n musikant van formaat, het die kinders meer van blaasinstrumente geleer en hoe om dit te bespeel. Hy meen die spulletjie was almal baie leergierig. Vir hom was dit heerlik om op die kinders se gesigte te kon sien hoe tevrede hulle is wanneer hulle iets op die instrumente regkry.
Beveloerder van die Da Gamaskop-polisiestasie, kol Mark Hartezenberg sê dat die projek veral betekenisvol is gesien vanuit die perspektief van sosiale misdaadvoorkoming.
"Hierdeur, het ons verseker dat minstens 25-30 kinders gedurende die vakansietyd konstruktief besig gehou is. Daar is 'n gesegde 'A child in sport, is a child out of court' en ons beskou hierdie projek in dieselfde lig."
Faith October, 'n graad 3-leerder vertel vol selfvertroue dat die opleiding baie pret en ook opvoedkundig was. Sy gesels gemaklik by Delfino's Resturant waar die kinders 'n geborgde ete geniet het om hulle beloon vir hulle harde werk.
"Dit help ons breine en dit keer dat ons heeltyd op straat is." Sy sê sy wil met die dril- en musiekopleiding aanhou totdat sy die skool verlaat. "Aan die begin was dit moeilik om soggens op te staan en in die vakansietyd skool toe te gaan, but I loved it."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'