Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Kampleier Koos Stofberg van die Voortrekkers se Seejol-kamp, wat onlangs op Mosselbaai gehou is, sê die kamp was 'n groot sukses.
Dié groep kom jaarliks na Mosselbaai en geniet altyd hul tyd hier. Vanjaar was egter hul eerste kamp by Santos De Bakke.
Klik hier vir foto's: Jonges geniet Seejol op Mosselbaai
"Ons het baie positiewe terugvoer van die kinders gekry; sommige reken dit was hulle lekkerste kamp ooit, so ek glo die kinders het dit geniet," sê Stofberg.
Die groep se amptelike kampterrein was by Santos De Bakke, maar daar was ook sekere groepe wat uitgeslaap het in ander dele waar hulle selfbehoud beoefen het.
Dié groepe se terugkeer Donderdag was beslis een van hoogtepunte, sê Stofberg. Een groep het ingeswem gekom van die hawe af na Santosstrand toe en is hartlik terug verwelkom.
Vrydag is die verskillende groepe se kursusse afgesluit waarna almal kampvuurkonsert gehou het en ook afskeid geneem het van Stofberg wat vir 12 jaar lank die kampleier was.
Hy sê dit was 'n baie mooi geleentheid en hier het hy dan ook amptelik oorgegee aan sy opvolger, Stefan Hattingh.
Saterdag het die kinders vir oulaas Mosselbaai se strate ingevaar om aandenkings en geskenkies te kry waarna hulle kamp opgeslaan en teruggekeer het na Gauteng.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’