MOSSELBAAI NUUS - Voormalige raadslid vir die Patriotic Alliance (PA), Faizell Porter, is vroeg vanoggend, 30 Mei, in hegtenis geneem en verskyn eersdaags in die Mosselbaai-landdroshof.
Porter is omstreeks 11:00 vandag vrygelaat en het buite die Mosselbaai polisiestasie met die Mossel Bay Advertiser gepraat en bevestig hy verskyn Maandag, 3 Junie, in die hof.
Hy sê daar is 'n aanklag van aanranding teen hom, maar ontken dat die aanranding plaasgevind het.
Tientalle PA-ondersteuners was by die polisiestasie om hom te verwelkom.
Sy inhegtenisname volg na 'n voorval by 'n OVK-pakhuis in Powriestraat, Mosselbaai, sê Kolonel André Taut, die provinsiale bevelvoerder vir media kommunikasie in die Wes-Kaap.
"Polisie is omstreeks 05:15 na 'n OVK-pakhuis ontbied, waar individue in party regalia toegang tot die perseel wou verkry waar stembriewe gehou word.
"Toe hulle daar aankom is 'n lid van die polisie deur een van die individue aangerand tydens 'n onderonsie. Die 50-jarige verdagte is gearresteer vir aanranding."
Porter beweer daar was ongeruimdhede met hoe die stembriewe vervoer is, en dit is waarom hulle na die pakhuis was om te gaan ondersoek instel.
Hierdie is 'n ontwikkelend storie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’